Proteas se nege-nederlaag-nagmerrie in Asië

Foto: Aamir Qureshi/AFP.

In die speeldae van Graeme Smith, Jacques Kallis, Hashim Amla en Dale Steyn was die Proteas so te sê onstuitbaar weg van die huis.

Hulle het reekse in Australië en Engeland gewen, terwyl hulle ook amok in Indië en in die Verenigde Arabiese Emirate teen Pakistan gemaak het.

Maar deesdae strompel die Suid-Afrikaners van een nagmerrie-toer na die ander in Asië. Reeksnederlae teen Indië (in 2015 en in 2019), Sri Lanka (2018) en Pakistan (2021) beteken dat die Proteas nege agtereenvolgende toetse op dié vasteland verloor het.

Dit is nie lekker om hierop te hamer nie, maar die Proteas sukkel wraggies in Asië. Net ’n onervare Bangladesj (18) en die sukkelende Wes-Indiese Eilande (tien) het meer agtereenvolgende toetse in Asië verloor.

Normaalweg trap die Suid-Afrikaanse kolwers klei teen draaiers soos Ravichandran Ashwin en Hernaga Herath op stowwerige blaaie, maar in die tweede toets teen Pakistan het Hasan Ali en Shaheen Afridi verwoesting gesaai.

Al twee is snelboulers.

Die nege paaltjies wat hulle in die Proteas se tweede beurt geneem het, is slegs die vyfde keer in 19 jaar waarin die tuisspan se snelboulers soveel paaltjies in die vierde beurt van ’n toets neem.

Daarbenewens het die Proteas hul laaste sewe paaltjies vir slegs 33 lopies prysgegee. Waar ’n mens hierdie tragedie normaalweg voor die deur van hul onvermoë om draaiers te neutraliseer gelê het, word daar nou gewonder of hulle opgewasse is om drukkoker-situasies te hanteer.

Intussen het Krieket Suid-Afrika aan die Internasionale Krieketraad geskryf om sy misnoeë met Australië se besluit om nie na Suid-Afrika te toer nie, uit te spreek.

Die Aussies het weens Covid-19-vrese besluit om nie na Suid-Afrika te toer nie. Die plaaslike krieketraad het toe reeds alles in sy vermoë gedoen om te voldoen aan die besoekers se versoeke.

Volgens berigte meen KSA dat Australië se besluit onsportief is, dat die geloofwaardigheid van die Wêreldtoetskampioenskap in gedrang is en dat dit ’n negatiewe invloed op die finansiële welstand van minder ryk lidlande het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Andre ·

Dit is reeds bewys dat Suid Afrika ‘n uiters gemiddelde krieketspan het en die nederlae teen Pakistan was die kwota stelsel nie die probleem nie want dit was die beste wat hulle kon kies. Wat wel waar is,is dat die gehalte van die spel lokaal baie gedaal het weens die kwota stelsel want hoe kan jy sukses behaal as die poel van beskikbare spelers verklein word. Kyk ook na die kondusie van sommige spelers; oorgewig en onfiks is nie meer ‘n uitsondering nie maar ‘n tendens . So aanvaar maar nog baie nederlae

Etienne ·

Slimmer lande poog om hul poel spelers te verbreed waaruit die bestes gekies kan word. Suid Afrika verklein sy poel al van laerskool af deur die kwotastelsel. Wat nog?

Vrijburger ·

“Volgens berigte meen KSA dat Australië se besluit onsportief is….” Huh?
Is daar iets meer onsportief as om spelers van alle ouderdomme uit spanne te hou agv van ras kwotas?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.