Proteas se opwarmingswedstryd dien dubbele doel

Faf du Plessis

Faf du Plessis

Die Proteas se opwarmingswedstryd Saterdag in Adelaide, teen ʼn Australiese elftal, is die ideale geleentheid om die fiksheid van veral die snelboulers te evalueer.

Die spandokter, dr. Mohammed Moosajee, het voor die span se vertrek vertrek al die spelers fiks verklaar. Dit sluit die ervare naatboulers Morné Morkel en Vernon Philander in, wat die afgelope tyd maar min gespeel het.

Dale Steyn se skouer bly steeds ʼn bekommernis en die kaptein, Faf du Plessis, het wéér gesê hy moet versigtig in die toetse gebruik word.

In die Aussie-kamp is daar ook kommer of hul gevaarlike snelbouler, Mitchell Starc, slaggereed sal wees vir die toetsreeks, waarin die snelboulers na verwagting ʼn deurslaggewende rol op die Australiese kolfblaaie sal speel.

Starc het in September tydens ʼn oefening sy linkerbeen baie sleg oopgesny, maar hy het die angstige pers verseker hy is gereed en dat dit goed gaan. Hy en Josh Hazlewood, wat ook in die Aussies se toetsgroep is, speel Maandag vir Nieu-Suid-Wallis in ʼn meerdaagse wedstryd. Hazlewood het ook nie in die onlangse eendagreeks gespeel nie.

Die naweek se wedstryd is die span se eerste losmaker voor die eerste van die drie toetse wat op 3 November in Perth begin.

Die Proteas besef terdeë die 5-0 reeks in die eendagwedstryde teen die Aussies is iets van die verlede en krieket op ʼn ander vlak lê nou voor. Dit sluit ondermeer die eerste dag-aand-toets in waaraan Suid-Afrika sal deelneem, die derde toets in hierdie reeks.

Die Proteas se wedstryd teen die Australiese elftal sal hulle onder meer ook kans gee om gewoond te raak aan die pienk bal wat in die dag-aand-toets gebruik word.

Dié bal swaai meer en die kolwers sukkel om die naat op te tel terwyl die bal na hulle op pad is, wat dit moeiliker maak om te bepaal wat die bal van die blad af sal doen.

Die Proteas kry darem nog ʼn kans met die pienk bal net voor die derde toets.

Toerbepalings –

Okt 22-23: vs Australia Uitnodigingselftal XI, Adelaide Oval (dag/aand)
Okt 27-28: vs Suid-Australiese XI, Glenelg, Adelaide
Nov 3-7: 1ste toets, Perth
Nov 12-16: 2de toets, Hobart
Nov 19-20: vs Victoria, Melbourne (dag/aand)
Nov 24-28: 3de toets, Adelaide (dag/aand)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.