Proteas se sterre lyk te sterk vir Sri Lanka

Kagiso Rabada Foto Daily Mail

Kagiso Rabada Foto Daily Mail

Die tyd vir speletjies is verby wanneer die Suid-Afrikaanse nasionale krieketspan Saterdagoggend teen Sri Lanka in Port Elizabeth in die eerste van vyf eendagwedstryde speel.

Die Proteas is seergemaak deur die onverwagse neerlaag in die T20-reeks, maar besef dat die belangriker eendag-formaat van die spel nou voorlê – en al die groot kanonne is terug in die Proteas se groep wat Saterdag oorweeg kan word om Sri Lanka met hul nuutgevonde vorm en selfvertroue na hulle T20-reeksoorwinning  in die bek te ruk.

Die Proteaspan wat Australië  onlangs 5-0 geklop het, is grotendeels dieselfde. AB de Villiers is egter terug en saam met hom is daar die gewone groot name, insluitende Chris Morris wat weer terugkeer na sy besering.

Met ook Hashim Amla, JP Duminy, Faf du Plessis, Quinton de Kock en ʼn uitgeruste Kagiso Rabada beskikbaar, lyk die Proteas se span na ʼn heel ander gedierte wat die wedstryd behoort te wen – mits hulle volgens hul potensiaal speel.

Lungi Ngidi, ʼn nuweling in die Proteagroep, het groot indruk in die T20-reeks met sy vinnige en akkurate boulwerk gemaak maar is in die laaste wedstryd beseer en sal eers weer oor sowat vier weke teen  Nieu-Seeland in aksie wees. Hy het ʼn maagspier geskeur.

Hy word nie in die groep vervang nie.

♦  Sri Lanka se hoop is op die kombinasie van draaiers en mediumsnelboulers om die sterk Proteakolfspan aan bande te lê op ʼn kolfblad wat na verwagting stadiger sal wees as die St Georges-toetsblad. Die linkerhandse gewrigdraaier Lakshan Sandakan, glo hulle, is hulle troefkaart.

Upul Tharanga is die besoekers se derde kaptein op die toer.

Die verwagte reën vroeg in die oggend mag natuurlik ook ʼn invloed hê. 

Proteas se groep –

AB de Villiers (kapt), Hashim Amla, Farhaan Behardien, Quinton de Kock, Jean-Paul Duminy, Faf du Plessis, Imran Tahir, David Miller, Chris Morris, Wayne Parnell, Andile Phehlukwayo, Dwaine Pretorius, Kagiso Rabada, Tabraiz Shamsi.

Sri Lanka se groep –

Upul Tharanga (kapt.), Dinesh Chandimal, Dhananjaya de Silva, Thikshila de Silva, Niroshan Dickwella, Lahiru Madushanka, Asela Gunaratne, Sandun Weerakkody, Nuwan Kulasekara, Suranga Lakmal, Kusal Mendis, Chaturanga de Silva, Sachith Pathirana, Seekkuge Prasanna, Lakshan Sandakan, Isuru Udana.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.