Proteas se toetsavontuur begin vandag

Die Proteas se Suné Luus en Engeland se Heather Knight. Foto: Twitter.

Die Protea-vrouekrieketspan sal sonder drie staatmakers in die toets teen Engeland in Taunton wees.

Shabnim Ismail en Chloé Tryon sal die kragmetings weens beserings misloop, terwyl Ayabonga Khaka op die witbalkrieketreeks sal konsentreer.

In ’n perfekte wêreld sou Suné Luus (kaptein) graag op dié spelers wou reken, maar sy is steeds opgewonde oor haar span se vooruitsig teen ’n sterk Engeland-elftal.

“Ons het ’n hele paaar jong spelers wat met hul vertonings in die opwarmingswedstryd teen die Engeland A-span beïndruk het. Toetskrieket is ’n nuutjie vir die meeste van ons en ons sien uit na die uitdaging,” het Luus gesê.

Die talentvolle Laura Wolvaardt het ’n honderdtal in die A-spanwedstryd geslaan, terwyl Anneke Bosch en Nonkululeko Mlaba goed geboul het.

Ismail en Tryon se afwesigheid beteken egter dat agt Protea-spelers hul toetskrieketbuiging sal maak. Slegs Marizanne Kapp, Trisha Chetty en Lizelle Lee het enige ervaring in dié sport se oudste formaat.

“Ons speel teen ’n baie sterk span wat uitstekende krieket in hul agterplaas speel. Dit gaan ’n moeilike uitdaging wees, maar ons is opgewonde en ons beskik oor die unieke geleentheid om goed teen Engeland weg van die huis te presteer,” het Hilton Moreeng (afrigter) gesê.

Intussen sal die Engelse sonder die diens van die ervare Katherine Brunt wees nadat sy onlangs haar toetskrieket-uittrede aangekondig het.

Die 36-jarige Brunt het Engeland in 14 toetse verteenwoordig waarin sy 51 paaltjies teen ’n gemiddeld van 21.52 geneem het.

Die aksie begin vandag vanaf 11:50 en dit sal op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.