Proteas se veelsydige kopseer

Shaun Pollock vier Sachin Tendulkar se paaltjie. Foto: Alexander Joe/AFP.

Waar is die Proteas se veelsydige krieketspelers heen? “Ag, seker nie ver nie,” is ongetwyfeld die verkeerde antwoord hier.

Suid-Afrika het nog altyd ’n trotse geskiedenis gehad van spelers wat met kolf én bal uitgeblink het. Maar dit lyk asof die dae van Jacques Kallis, Shaun Pollock, Brian McMillan, Mike Proctor en Trevor Goddard lank iets van die verlede is.

Die Internasionale Krieketraad het sy lys van die voorste veelsydige toetskrieketspelers op 17 Februarie opdateer en daar is nie ’n enkele Protea onder die top-20 nie.

Nie net het Zimbabwe se Sikandar Raza meer punte nie, maar die Engelse kolwer Joe Root beklee ook ’n hoër posisie as enige Suid-Afrikaner op die lys.

Op die eendagfront lyk dinge darem ’n bietjie beter met Andile Phehlukwyao (13) en Kagiso Rabada (19) onder die wêreld se voorstes.

Die Proteas speel deesdae egter min toetskrieket, tog lyk die veelsydige speler-kas ook maar leeg.

Hier is ’n lys van die spelers wat moontlik Kallis en Kie. se skoene kan probeer volstaan:

Wiaan Mulder. Foto: Christiaan Kotze.

Wiaan Mulder (vier toetse, kolfgemiddeld van 18,33 en boulgemiddeld van 23,00):

Die 23-jarige speler van Gauteng het ongetwyfeld baie talent; hiervan getuig sy kolfgemiddeld van 38,22 en boulgemiddeld van 24,75 in eersterangse krieket. Daarbenewens was hy Suid-Afrika se voorste bouler in die toetsreeks teen Sri Lanka.

Hy moet egter genoeg tyd gegun word om sy stempel oor ’n langer tydperk op internasionale krieket af te druk.

Andile Phehlukwayo (vier toetse, kolfgemiddeld van 9,50 en boulgemiddeld van 13,36):

Die KwaZulu-Natalse speler het heel skaflik met die bal in sy toetse teen Bangladesj en Indië vertoon, maar dit lyk asof die nasionale keurders hom meer as ’n eendagspeler sien.

Is ’n eersterangse kolfgemiddeld van 21,36 en ’n boulgemiddeld van 36,09 egter goed genoeg ná 42 wedstryde?

George Linde (drie toetse, kolfgemiddeld van 22,50 en boulgemiddeld van 28,00):

Die linkshandige draaier is ’n rateltaai-speler wat heel skaflik in drie moeilike wegspeeltoetse (teen Indië en Pakistan) gevaar het.

Sy boulontleding van 5/64 in die tweede beurt van die Rawalpindi-toets – met ’n beseerde vinger en al – spreek boekdele van sy veggees.

Dwaine Pretorius (drie toetse, kolfgemiddeld van 13,83 en boulgemiddeld van 36,00).

Op 31-jarige ouderdom is Pretorius ouer as die ander spelers op die lys, maar hy het al bewys dat hy oor veerkragtigheid beskik ná ’n paar kniebeserings.

Sy boulwerk is akkuraat en hy het die vermoë om paaltjies te neem – soos wat sy boulontleding van 5/17 in die tweede T20-kragmeting teen Pakistan getuig.

  • Voorste veelsydige spelers in toetskrieket (soos op 17 Februarie 2021):
  1. Jason Holder (Wes-Indië)
  2. Ravindra Jadeja (Indië)
  3. Ben Stokes (Engeland)
  4. Shakib Al Hasan (Bangladesj)
  5. Ravichandran Ashwin (Indië)
  6. Kyle Jamieson (Nieu-Seeland)
  7. Mitchell Starc (Australië)
  8. Colin de Grandhomme (Nieu-Seeland)
  9. Pat Cummins (Australië)
  10. Chris Woakes (Engeland)
  • Jacques Kallis. Foto: Twitter.

    Voorste veelsydige spelers (soos op 17 Februarie 2000):

  1. Shaun Pollock (Suid-Afrika)
  2. Chris Cairns (Nieu-Seeland)
  3. Jacques Kallis (Suid-Afrika)
  4. Wasim Akram (Pakistan)
  5. Carl Hooper (Wes-Indië)
  6. Steve Waugh (Australië)
  7. Dion Nash (Nieu-Seeland)
  8. Lance Klusener (Suid-Afrika)
  9. Anil Kumble (Indië)
  10. Shane Warne (Australië)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anti-Verkramp ·

Lys soos op 17 Februarie 2000? Niksseggend. Lyk of die skrywer gesoek het na ‘n datum toe Pollock eerste op die lys was. Kallis by verre die beste veelsydige speler wat die wereld gesien het. Ek het ‘n lys van beste van alle tye gesien waar Kallis 1ste, Pollock 11de en Klusener 17de is, lyk meer akkuraat.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.