Proteas se veggees laat Indië steier op Nuweland

Goeie toetskrieket bly maar spesiaal, en Vrydag se eerste dag van die toetsreeks tussen Suid-Afrika en Indië was presies waaroor toetskrieket gaan.

ʼn Mens kan nouliks vir meer vra: twee goeie spanne, 13 paaltjies op die eerste dag, 43 viere en twee sesse en van die wêreld se beste boulers en kolwers wat mekaar die stry aansê…

Na die eerste dag se 84.1 boulbeurte was Suid-Afrika se neus voor na ʼn pragtige terugvegpoging. Hulle is na hulle eerstebeurttelling van 286 almal uit nou 258 lopies voor Indië wat op 28/3 wankel en skielik nie meer in beheer van die toets is nie.

Eers was dit Suid-Afrika se vermeende lang kolfstert wat die besoekers gefrustreer het, en toe het die Proteas se insluiting van vier snelboulers waaroor lank bespiegel is, die res gedoen.

♦ Die oggend het vir Suid-Afrika nie goed begin nie. Hulle het die loot gewen en besluit om eerste te kolf, maar het met net 12 lopies op die telbord reeds vir Dean Elgar (0), Aiden Markram (5) en Hashim Amla (3) verloor. Die Indiese aanvangsbouler Bhuvneshwar Kumar het al drie die paaltjies geneem en uiteindelik met 4/87 geëindig.

Toe het die twee skoolmaats van Affies, die kaptein, Faf du Plessis, en sy voorganger as die Proteas se aanvoerder, AB de Villiers, die besoekers die stryd aangesê.

Terwyl AB verwoestend was, het Faf gekonsolideer. Hulle vennootskap van 114 lopies is van net 28.1 beurte aangeteken, ʼn lopietempo van meer as vier per boulbeurt.

De Villiers, 65 (84 balle, 11 viere) is op 126/4 uitgehaal. Die Proteas was in die knyp toe Du Plessis 16 lopies later op 142/5 vir 62 lopies (104 balle, 12 viere) moes stap.

ʼn Mens het dit van die twee skoolvriende verwag. Hulle is immers gesoute, uitstekende kolwers. Maar toe, net toe Indië dink die vernaamste slag is geslaan, kom daar vir hulle ʼn onaangename verrassing.

Eers het Quinton de Kock losgetrek soos hy kán en 43 in net 40 balle geslaan. Vernon Philander het 23 van lopies aangeteken, Keshav Maharaj is vir 35 uitgehardloop en Kagiso Rabada het 26 lopies geslaan.

Dale Steyn het ook die langerige stert van die Proteas met ʼn onoorwonne 16 deeglik laat swaai tot by die telling van 286 almal uit – dus 146 lopies vir die laaste vyf paaltjies nadat Du Plessis uitgehaal is.

Dit was ʼn bek-af Indië wat die dag se laaste 11 beurte moes kom trotseer nadat sake aanvanklik so flink verloop het.

Philander, Steyn en Morné Morkel vryf toe die terugvegpoging deeglik in met ʼn paaltjie elk, insluitende dié van die grote, Virat Kohli, wat vir net vyf agter die paaltjies Morkel se slagoffer was.

Op die kolfblad wat teen die einde van die eerste dag nog heelwat lewe gehad het, ʼn sterk wind wat die swaaiboulwerk sal help en Steyn se snelballe nog vinniger sal maak, wag daar harde werk op Indië.

Vir die volledige telkaart en statistiek, klik op die skakel: http://www.espncricinfo.com/series/18065/scorecard/1122276/south-africa-vs-india-1st-test-ind-in-sa-2017-18

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

pbotha ·

Wonderlike veggees inderdaad. Maar hoe die keurders hul telkens kast mislei deur Steyn en sy fiksheid gaan my verstand te bowe??? as hy nie die toets voltooi nie is al die druk terug op SA. Hy het homself deur jare bewys as 1 vd beste.. aanvaar nou dat hy ‘n “has been” is!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.