Proteas se wisselvallige kolflys moet kliek

Vernon Philander

Vernon Philander

Die twee kolwers wat sekerlik die grootste impak op die eendagreeks tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland gehad het, sal nie te siene wees in die drie toetswedstryde tussen die twee lande wat Woensdagoggend (middernag) begin nie.

Martin Guptill wat van beserings teruggekeer het vir die vierde eendagwedstryd en 180 nun aangeteken het, is ondanks hierdie skitterende beurt uit die toetsgroep weggelaat.

AB de Villiers  wat keer op keer met sy kolfwerk vir Suid-Afrika die wa deur die drif moes trek, het homself nie beskikbaar gestel vir die toetsreeks nie. Hy het dit gedoen in ʼn poging om sy loopbaan beter te bestuur.

♦  Suid-Afrika se kolflys vir die eerste toets op die Universiteitovaal in Dunedin het die potensiaal om sake baie moeilik vir die Nieu-Seelanders te maak. Dis nou te sê as hulle kolf soos wat hulle kán kolf.

Hashim Amla en JP Duminy het nie te waffers in die eendagreeks gevaar nie en Amla het in die reeks teen Sri Lanka ook wisselvallig gekolf.

Temba Bavuma het verlede jaar beïndruk in die reeksoorwinning oor Australië. In die sewe kolfbeurte sedert sy 71 in Hobart het hy egter net 50 lopies aangeteken waarvan 21 in sy laaste vyf beurte was. In sy laaste twee toetsbeurte is hy vir twee nulletjies uitgehaal.

Quinton de Kock se onbetwiste talent word soms gekniehalter deur onbesonne houe te vroeg in sy beurt.

Maar natuurlik is die Swart Pette in dieselfde bootjie as dit kom by die kolfvertoning op die dag.

♦  Met die onsekerhede oor die twee kolflyste wat op papier goed lyk maar nie onlangs hulle kant ten volle in toetskrieket gebring het nie, kan hierdie toets in in ʼn stryd tussen die boulers ontwikkel. Morné Morkel is lank, aggressief en in staat om die bal te laat terugswaai. Die Proteas se span is nog nie gekies is nie, maar die kaptein Faf du Plessis het bevestig dat Morkel sal speel.

Hoewel Morkel meer as ʼn jaar laas toetskrieket gespeel het, meen die toerspan se keurders hy is gereed om na sy rugbesering losgelaat te word.

Benewens sy ervaring vaar Morkel besonder goed teen linkerhandse kolwers  – en Nieu-Seeland het ses linkerhandse kolwers in hulle groep. Dit sluit die twee aanvangskolwers Tom Latham en Jeet Raval in.

Die Proteas sal sekerlik ook hulle spesialis draaier, Keshav Maharaj, kies.

Hoewel die kolfblad groenerig is en aanvanklik goeie steun aan die boulers kan bied, is die verwagting dat dit later ʼn blad sal word waar lengte en swaai belangrik sal wees.

Vernon Philander kan in die toestander `n wedstrydwenner wees en Kagiso Rabada het al bewys hy is ‘n bouler wat sy sout werd is.

Die Nieu-Seelander se Neil Wagner wat soos Du Plessis en AB de Villiers by Affies op skool was (maar twee jaar jonger as die twee SA kolfhelde is) was die afgelope 18 maande Nieu-Seeland se suksesvolste bouler.

Hy is bekend daarvoor dat hy aanhoudend akkurate wipballe afstuur. Hy sê egter óók dat die bal nie in koue weer wil swaai nie wat onderstreep dat goeie beheer die antwoord is.

Hulle het natuurlik ook vir Trent Boult en Tim Southee wat gesoute boulers is – veral in tuisomstandighede.

Daar word mooiweer vir die eerste drie dae voorspel hoewel dit effens koel kan wees. Reën kan oor die naweek die krieket ontwrig.

♦  Terloops – en al is die verlede nie ʼn aanduiding van die hede nie – Nieu-Seeland sukkel teen Suid-Afrika.

Sedert die eerste reeks tussen die twee lande in 1931/’32 het Nie-Seeland nog net een toets op tuisbodem teen Suid-Afrika gewen en drie keer in Suid-Afrika geseëvier. Suid-Afrika het reeds 23 keer teen die Kiwi’s gewen met 14 toets wat onbeslis was.

Suid-Afrika het 12 van die 15 reekse teen Nieu-Seeland gewen met drie reekse wat gelykop was.

Waarskynlike spanne –

Nieu-Seeland: 1 Tom Latham, 2 Jeet Raval, 3 Kane  Williamson (kapt.), 4 Ross Taylor, 5 Henry Nicholls, 6 BJ Watling, 7 Mitchell Santner, 8 Colin de Grandhomme/James Neesham, 9 Neil Wagner, 10 Tim Southee, 11 Trent Boult
Suid-Afrika: Faf du Plessis (kapt.), Stephen Cook, Dean Elgar, Hashim Amla, JP Duminy, Temba Bavuma, Quinton de Kock, Vernon Philander, Keshav Maharaj, Kagiso Rabada, Morné Morkel,

Sessies (SA tye): 00:00-02:00; 02:40-04:40; 05:00-07:00.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.