Proteas seëvier op Wanderers

Duanne Oliver juig na Upul Tharanga se paaltjie val. Foto: AP Photo/Themba Hadebe

Duanne Oliver juig na Upul Tharanga se paaltjie val. Foto: AP Photo/Themba Hadebe

Suid-Afrika het Saterdag op die Wanderers in Johannesburg 16 paaltjies in 70,1 boulbeurte geneem om Sri Lanka met ʼn beurt en 118 lopies te klop en die toetsreeks 3-0 te wen.

Dit was die Proteas se eerste skoonskipreeks sedert hulle Pakistan in 2012/13 ook in al drie toetse geklop het.

ʼn Hoogtepunt van die dag se spel, wéér op ʼn lewendige Wanderers-kolfblad wat boonop ook effens ongelyk was, was die skitterende vangskote van Faf du Plessis-hulle.

Hyself het een van die beste glip-vangskote denkbaar gevang,JP Duminy het ver gehardloop om ʼn vangskoot oor sy skouer te vang en Quinton de Kock het met twee baie goeie vangskote agter die paaltjies, die een met een hand en die ander ná ʼn duikslag, tot Sri Lanka se ondergang bygedra.

Sri Lanka het op 80/4 in hulle eerste beurt kom voortkolf en was 51 lopies later op 131 almal terug in die pawiljoen. Daar was sporadiese teenstand van die kaptein Angelo Mathews (19) en Upul Tharanga (24).

Stephen Cook stuur Rangana Herath terug kleedkamer toe. Foto: AP Photo/Themba Hadebe

Stephen Cook stuur Rangana Herath terug kleedkamer toe. Foto: AP Photo/Themba Hadebe

Kagiso Rabada het in die toets sy beste boulwerk van die reeks uitgestal. Hy het ritme gehad en was meer vurig in sy 12 boulbeurte wat hom 3/12 besorg het. Vernon Philander (2/28) was weer voortreflik en Wayne Parnell, in sy eerste toets van die seisoen, het 2/38 geneem.

Duanne Olivier, in sy debuuttoets, het vinnig en goed geboul. Daar is ʼn bietjie skaafwerk aan hom te doen, maar hy kan in ʼn baie goeie toetsbouler ontwikkel. Olivier het 2/19 geneem.

In die tweede beurt van Sri Lanka het Dimuth Karunaratne (50) die beurt aanmekaar gehou en Kusal Mendis (24), weer Tharanga (26) en ook Suranga Lakmal (31) het ook redelike bydraes gelewer.

Sri Lanka kon egter net 177 lopies in minder as 43 beurte aanteken. Parnell (4/51), Olivier (3/38), Rabada (2/50) en Philander (1/35) was saam met die kolfblad weer die Sri Lanka-kolwers se gesamentlike tier.

♦  JP Duminy, wat 155 lopies aangeteken het en dit teen ʼn vinnige tempo gedoen het toe Hashim Amla nog vroeg in sy beurt gesukkel het, is as speler van die wedstryd aangewys.

♦  Sy 308 lopies teen 61,60 per beurt met twee vyftigtalle en ʼn honderdtal, en ook twee aanvangsvennootskappe van meer as ʼn honderd lopies met Stephen Cook, het aan Dean Elgar die toekenning as speler van die reeks besorg.

Angelo Mathews. AP Photo/Themba Hadebe

Angelo Mathews. AP Photo/Themba Hadebe

Opgesomde telkaart –
Suid-Afrika (eerste beurt) 426:  (Kolwers: Stephen Cook 10, Dean Elgar 27, JP Duminy 155, Hashim Amla 134, Duanne Olivier 3, Faf du Plessis 16, Temba Bavuma 0, Quinton de Kock 34, Vernon Philander 0, Wayne Parnell 23, Kagiso Radaba 0*. Boulers: Lahiru Kumar 4/107, Dilruwan Perera 4/78 en Angelo Mathews 2/52).
Sri Lanka (eerste beurt) 131: (Kolwers: Kusal Mendis 41, Upul Tharanga 24 Boulers: Vernon Philander 3/28, Kagiso Rabada 3/44, Duanne Olivier 2/19 en Wayne Parnell 2/38).
Sri Lanka (tweede beurt, opvolg) 177: (Kolwers: Dimuth Karunaratne 50, Kusal Mendis (24), Upul Tharanga 26 en Suranga Lakmal 31. Boulers: Wayne Parnell 4/51, Duanne Olivier 3/38, Kagiso Rabada 2/50 en Vernon Philander 1/35.

Suid-Afrika wen met ʼn beurt en 118 lopies

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Uiltjie ·

En dit alles is hul draaibouler se skuld- hy’s te goed! Sri Lanka het nog nooit in die verlede nog gehad om sulke hoe tellings te jaag nie, want hy het die ander spanne goedkoop uitgehaal!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.