Proteas skud die Aussies op tweede dag

Dale Steyn. Foto: Michael Sherman/ANA

Dale Steyn. Foto: Michael Sherman/ANA

Suid-Afrika het Vrydag op die tweede dag van die eerste kriekettoets teen Australië in Perth ʼn merkwaardige vertoning gelewer en hulle hopelose posisie op die eerste dag omgekeer. Hulle is reeds 102 lopies voor met agt paaltjies staande.

Veggees en bouldissipline, tesame met uitstekende veldwerk, het Faf du Plessis-hulle stewig in die saal geplaas. Hulle het al tien Australiese paaltjies vir 86 lopies geneem nadat die tuisspan op 158 sonder verlies en net 84 lopies agter die Proteas, stewig in beheer was.

Australië is vir 244 uitgehaal.

♦  Suid-Afrika het die tweede dag van die eerste toets teen Australië op die agtervoet begin met ʼn eerstebeurt-telling van net 242 en Australië op 105 lopies sonder verlies. Van meet af het die boulers beter as op die eerste dag vertoon, maar David Warner en Shaun Marsh het met selfvertroue gekolf.

Die eerste paaltjie het eers op 158 geval toe Hashim Amla in die glippe vir Warner van Dale Steyn se boulwerk uitgevang het – ʼn waardevolle paaltjie, want Warner was goed op dreef met 97 lopies van 100 balle.

Steyn se paaltjie het hom in die toptien geplaas wat die meeste paaltjies in toetskrieket geneem het. Maar nadat hy 12.4 boulbeurte afgestuur het, het Steyn sy skouer vasgegryp en is hy van die veld af.

Skanderings het gewys ʼn been in die skouer is gekraak en sy Aussie-toer is op ʼn einde. Dit was ʼn gevoelige slag vir die Proteas se boulaanval, ook vir die oorblywende toetse.

Die Proteaboulers het met gedissiplineerde boulwerk egter die druk op die Aussies gehou en ná die deurbraak op 158 het die paaltjies met reëlmaat begin val.

Usman Khawaja (4) is deur Radaba skoongeboul (167/2); die kaptein Steve Smith is deur Kashev Maharaj vir nul betrap (168/3); en Shaun Marsh (63) het op 181/4 gevolg, been voor deur Vernon Philander.

Ná etenstyd en drie leë boulbeurte met die telling steeds op 181, is Mitchell Marsh (0) ook beenvoor uit met Philander weer die bouler.

Die sesde en sewende paaltjies het op 202 geval. Alan Voges (27) is deur Kagiso Rabada gevang en geboul en Mitchell Starc is briljant deur Faf du Plessis uitgevang van Maharaj se boulwerk af. Die debutant het ook die volgende paaltjie geneem en die lastige Peter Nevill vir 23 uitgehaal.

Josh Hazlewood (4) en Peter Siddle (18) was ook slagoffers van Philander en die Aussies was almal uit vir 244 – ʼn voorsprong van net twee lopies.

♦  Suid-Afrika het sy tweede kolfbeurt begin, welwetende dat hulle ʼn bouler te min in Australië se kolfbeurt sal hê. Stephen Cook was onder geweldige druk om goed te vaar ná ʼn rits teleurstellende vertonings dusver op die toer.

Hy het stewig gekolf en was net meer as ʼn uur voor die penne toe hy met sy telling op 12 ʼn onnodige haakhou gespeel het (35/1).

Ook Hashim Amla sukkel en dit het voortgeduur toe hy vir een lopie skoongeboul is. Op 45/2 was Suid-Afrika in die knyp, maar Dean Elgar (46) en JP Duminy (34) het vasgeskop en teen uitskeityd, op 104/2, was die Proteas 102 lopies voor met agt paaltjies in hulle tweede beurt nog staande.

Opgesomde telkaart:

Suid-Afrika (tweede beurt) 104/2 (Kolwers: Dean Elgar  46* JP Duminy 34*, Stephen Cook 12, Hashim Amla 1.)

Australië (eerste beurt): 244 (Kolwers: David Warner 97, Shaun Marsh 63, Adam Voges 27, Peter Nevill 23. Boulers: Vernon Philander 4/56, Keshav Maharaj 3/56, Kagiso Radaba 2/68, Dale Steyn 1/51.)
Suid-Afrika (eerste beurt): 242 (Kolwers: Quinton de Kock 84, Temba Bavuma 51, Faf du Plessis 37. Boulers: Mitchell Starc 4/71, Josh Hazlewood 3/70.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.