Proteas sonder beseerde Rassie in Centurion

Rassie van der Dussen. Foto: Christiaan Kotze/AFP.

Die Proteas sal vandag op SuperSportpark Pakistan die stryd moet aansê sonder die diens van Rassie van der Dussen.

Die sterkolwer het ’n kwadrisepbesering opgedoen en sal die aksie van die langs die veld moet dophou.

Dit is ’n gevoelige slag vir die Suid-Afrikaners want Van der Dussen het twee pragbeurte tot op hede in die reeks gespeel. Hy het verlede week sy eerste eendagkriekethonderdtal gemoker, waarna hy Sondag ’n blitsige 60 lopies geslaan het.

Daarbenewens het Indiese Premierliga-verpligtinge gesorg dat die Proteas ook sonder spelers soos Quinton de Kock, Kagiso Rabada, Anrich Nortjé, Lungi Ngidi en David Miller vir die oorblywende wedstryde moet klaarkom.

Goeie nuus is dat Janneman Malan en Kyle Verreynne darem weer speelkans kry, terwyl die opwindende Daryn Dupavillon en Lutho Sipamla die boulers sal versterk.

Intussen het bewolkte weer in Pretoria gesorg dat Temba Bavuma besluit het om eerste veldwerk te doen nadat hy die loot gewen het.

“Die bal kan moontlik nou ’n bietjie swaai en dit is baie moeilik om ’n telling op die Hoëveld te verdedig,” het die Protea-kaptein gesê.

Proteas: Aiden Markram, Janneman Malan, Jon-Jon Smuts, Temba Bavuma, Kyle Verreynne, Heinrich Klaasen, Andile Phehlukwayo, Keshav Maharaj, Daryn Dupavillon, Beuran Hendricks en Lutho Sipamla.

Pakistan: Imam-ul-Haq, Fakhar Zaman, Babar Azam, Mohammad Rizwan, Sarfaraz Ahmed, Mohammed Nawaz, Faheem Ashraf, Hasan Ali, Shaheen Shah Afridi, Usman Qadir en Harris Rauf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.