Proteas sonder voorste boulers steeds te goed

Vir die krieketfynproewer bly kitskrieket maar ʼn eienaardigheid waar patroon en taktiek op die agterbaan geskuif word, maar Donderdagaand het dit in Bloemfontein weer sy kwota vermaak opgelewer.

Dit word wel as internasionale krieket geklassifiseer, al was daar nie ʼn enkele van Suid-Afrika se voorste boulers in die span wat Bangladesj in die eerste van twee T20-wedstryde met 20 lopies geklop het nie.

Suid-Afrika het 195/4 aangeteken e die besoekers tot 175/9 beperk.

Die tuisspan het sy sewende opeenvolgende sege in al drie vorme – toets-, eendag- en kitskrieket – teen Bangladesj behaal en dit eindelik baie maklik reggekry.

Tot halfpad deur hulle kolfbeurt het die Bangladesjers seker nog geglo hulle kan die wenteiken van 196 bereik, maar toe is hulle gebrek aan gehalte weer uitgewys.

Hoogtepunte was AB de Villiers, duidelik weer op sy beste, se 49  in 27 balle, Quinton de Kock se 59 in 44 balle en David Miller (25, 19 balle) en Farhaan Behardien (37, 17 balle) wat saam in die laaste vyf boulbeurte 62 lopies aangeteken het toe die Proteas gekolf het.

Soumya Sarkar (47, 31 balle) en Mohammad Saifuddin (39 nun  in 27 Balle) het die beste met die kolf gevaar. Bangladesj se ander kolwers het so effens gedreig, maar niemand het lank genoeg gebly om die verrassing te bewerkstellig nie.

Dane Paterson, Beuran Hendricks, Robbie Frylinck, Andile Phehlukwayo het elk twee paaltjies geneem  en Aaron Phangiso een.

Die laaste toerwedstryd, ook oor 20 beurte per span, begin Sondag om 14:30 op Potchefstroom.

Vir die volle telkaart en statistiek, klik op http://www.espncricinfo.com/series/10904/scorecard/1075507/South-Africa-vs-Bangladesh-1st-T20I-bangladesh-in-south-africa-t20i-series/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.