Proteas soos die Bokke: nie genoeg spelers van toetsgehalte nie

Soos Allister Coetzee se Springbokgroep het die Proteas ʼn paar spelers van internasionale gehalte maar te veel wat nie ryp vir hierdie vlak is nie.

Die Proteas het gister korte mette van Engeland se laaste twee kolwers in die tweede beurt gemaak, vroeg self drie verloor en toe mooi teruggeveg. Maar as jy 380 lopies jaag en dan jou laaste sewe paaltjies vir 39 lopies verloor, is daar fout en repurkussies.

Engeland het die vierde toets lag-lag met 177 lopies gewen nadat hulle die laaste twee paaltjies vir 32 lopies verloor het en vir 243 uitgehaal is. Morné Morkel het albei paaltjies geneem en sy 4/42 terdeë verdien nadat hy die kolf so dikwels sonder sukses ook in hierdie toets geklop het.

Duanne Olivier (3/38) en Kagiso Rabada (2/50) het saam met Keshav Maharaj se 1/91 die ander paaltjies geneem.

♦  Engeland het die toetsreeks met 3-1 beklink en die eerste keer in 19 jaar op tuisbodem ʼn reeks teen Suid-Afrika gewen, ondanks ʼn hele paar eie probleme met hulle span se balans en sterkte.

Om 380 in die laaste kolfbeurt te jaag is nie maklik nie, en as die kolfblad ook ná Sondag se spel twyfel in die kolfgemoed wek, is dit natuurlik nog moeiliker. Dít het Suid-Afrika deeglik ervaar.

Dit word ʼn saak van amperse onmoontlikheid as jy jou twee aanvangskolwers vir 18 lopies verloor het en jou derde paaltjie kantel op 40. Dean Elgar (5), Heino Kuhn (11) en Temba Bavuma (12) was toe reeds daarmee heen.

Hashim Amla het op stryk gelyk en toe saam met Faf du Plessis so ʼn tikkie hoop op die onwaarskynlike gegee toe hulle saam 123 lopies om die vierde paaltjie in 31.2  beurte aangeteken het.

Toe misgis Amla hom met ʼn bal op sy beenskutte en word beenvoor uitgegee (163/4) en Quinton de Kock (1), Theunis de Bruyn (tweede bal nulletjie) en Du Plessis (61) volg binne 20 lopies – en selfs voor die telling wat toe op 183/7 gestaan het, was die wedstryd en die reeks reeds verlore.

Keshav Maharaj het 21 nie uit nie aangeteken en die beurt was op 202 twee verby – heelwat swakker as die skokkende eerstebeurt-vertoning van 226 lopies.

Moeen Ali (5/69) was weer die Proteakolwers se doodsteek, en Jimmy Anderson (3/16) het nog drie paaltjies by sy vier van die eerste beurt gevoeg.

Om al die tellings en statistiek te sien, klik op die volgende skakel: http://www.espncricinfo.com/series/10718/scorecard/1031443/England-vs-South-Africa-4th-Test-Basil-DOliveira-Trophy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

cdv ·

Dit is die gevolge van van volgehoue verlaging van standaarde en om spertye en alle norme af te water. Dit is nou deel van die Suid Afrikaanse psige. Dit is OK om tweede te kom, dit is OK om nie so hard te probeer nie, dit is OK om nie te wen nie – daar is geen gevolge, ek behou my plek/salaris / voordele ens. Geen wonder daar word in die buiteland na SA’ners as “gutless” verwys.

Veritas ·

Daar is niemand meer geskik om die span te kies nie, as die kaptein. Hy is die man op die veld wat die verskonings moet uitdink vir hul patetiese vertonings. Indien dié toergroep werklik die beste spelers in SA is, getuig dit van die agteruitgang in spelergehalte. Dieselfde geld vir rugby. Ons kampioenspan kon nie eers die Superrugbybeker op tuisbodem wen nie. Ek sien swarigheid vir dít wat vir ons nasionale spanne voorlê.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.