Proteas speel maklik met Bangladesj klaar

Anrich Nortjé het die paaltjie van die Bangladesj-kaptein, Mahmudullah, geneem. Foto: Indranil Mukherjee/AFP.

Die Proteas het sopas hul derde agtereenvolgende T20-Wêreldbekerwedstryd gewen toe hulle vir Bangladesj met ses paaltjies in Abu Dhabi geklop het.

Op ’n kolfblad wat snelboulwerk bevoordeel het, het Anrich Nortjé (3/8) en Kagiso Rabada (3/20) baljaar om hul teenstanders vir slegs 84 lopies uit te knikker.

Rabada het veral vroeg in die beurt uitgeblink en sy vurige boulskof het gesorg dat Bangladesj op 40/5 ná tien boulbeurte gewankel het.

Nortjé en Tabraiz Shamsi (2/21) het daarna vinnig met die stertkantkolwers klaargespeel.

Oudergewoonte het die Suid-Afrikaners weer eens nie dinge vir hulself te maklik met die kolf gemaak nie.

Reeza Hendricks (4) en Aiden Markram (0) is vinnig uitgehaal, terwyl Quinton de Kock (16) en Rassie van der Dussen (22) ook hul paaltjies verloor het.

Temba Bavuma (31) en David Miller (5) was voor die paaltjies toe die Suid-Afrikaners die wenlopies in die 14de boulbeurt geslaan het.

Die span is tans tweede op Groep 1 se punteleer, maar verskeie faktore kan nog ’n invloed op hul kans hê om vir die halfeindstryd te kwalifiseer.

Tans wen die Proteas hul wedstryde, maar die stadiger tempo waarteen hulle hul lopies slaan kan die deur vir ander spanne oopmaak.

“Dit was lekker om te sien hoe die bal swaai, maar dit was nie eintlik ’n groot verrassing nie; ons het immers van die Indiese Premierliga-wedstryde hier gespeel. Anrich is goed op dreef en ek is bly dat hy ook paaltjies geneem het,” het Rabada gesê.

Die Proteas speel Saterdag in hul laaste Super 12-wedstryd, terwyl Australië nog teen Bangladesj en die Wes-Indiese Eilande moet speel.

  • Groep 1-punteleer:
  1. Engeland 8 punte
  2. Suid-Afrika 6 punte
  3. Australië 4 punte
  4. Sri Lanka 2 punte
  5. Wes-Indiese Eilande 2 punte
  6. Bangladesj geen punte nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

piet ·

Bavuma speel kapteinsbeurt, kry weer die meeste lopies en hou die kolfbeurt aanmekaar terwyl ander om hom val soos vliee. Die ander kolwers sal moet begin lopies slaan, Bavuma kan nie elke wedstryd red nie. Voorwaarts mars!!!

Pieter ·

‘n Bitter pil vir die mense hier. Lippe onder die klippe.

piet ·

Bavuma kolf vinniger as ‘n lopie ‘n bal, red weer die kolfbeurt met die hoogste telling. Puik kaptein wat met voorbeeld lei net soos Kolisi. Span kan net beter raak onder sulke skitterende kapteinskap.

Danie ·

O ja, daar word iewers krieket gepeel en knieggies gebuig, of is dit nou anders om. Ek kan nie onthou watter een van die 2 vir hul meer belangerik is nie.

Jean ·

Proteas doen nog altyd goed in krieket tot hulle in ‘n finaal kom, dan “choke” hulle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.