Proteas speel uiteindelik soos die span van ouds

Dwaine Pretorius vier Kusal Perera se paaltjie saam met Chris Morris en Kagiso Rabada. (Foto: Cricinfo)

Soms stap die lewe ’n vreemde pad met jou. Kyk na Dwaine Pretorius.

Die veelsydige ster van die Lions was in Ottis Gibson se aanvanklike groep van 15 spelers vir die Wêreldbeker-toernooi in Engeland, maar hy het weinig speelkans gekry. Chris Morris – wat nie in die begingroep ingesluit was nie en eers later die beseerde Anrich Nortjé vervang het – het hom hoofsaaklik uit die span gehou.

Maar gister op Chester-le-Street teen Sri Lanka het Pretorius gedoen wat enige afrigter van hom sou verwag het: Hy het sy kans met albei hande aangegryp en was ’n sleutelfiguur in die Proteas se spogoorwinning met nege paaltjies.

Kagiso Rabada het die bal aan die rol vir die Proteas gesit toe hy met die eerste aflewering van die dag van Dimuth Karunaratne ontslae geraak het.

Daarna het die Proteas weer – soos telkemale in die toernooi – hul voet van die drukpedaal gehaal en Sri Lanka het met meer vryheid en selfvertroue begin kolf.

Totdat Pretorius sy verskyning op die toneel gemaak het.

Hoewel hy ook aanvanklik gesukkel het, het hy later met akkurate boulwerk die Sri Lanka-kolwers laat bontstaan. Hy is dalk nie die vinnigste in SA se snelboulerarsenaal nie, maar gister het sy tipe boulwerk die Durham-blad soos ’n handskoen gepas.

Sy 3/25 in 10 boulbeurte was grotendeels die rede waarom Sri Lanka vir 203 uitgehaal is. Hy is goed deur Morris (3/46) en Rabada (2/36) bygestaan.

Die senuwees het egter steeds met die aanvang van die Suid-Afrikaanse kolfbeurt geknaag – die Proteas doen gereeld vreemde dinge in Wêreldbeker-wedstryde.

Maar ’n briljante vennootskap van 175 lopies om die tweede paaltjie tussen Hashim Amla (80*) en Faf du Plessis (96*) het die Proteas na hul beste oorwinning by die WB-toernooi gestuur.

Tydens die mediakonferensie het Du Plessis gesê hoewel die sege lekker is, laat dit steeds ’n soetsuur smaak in die mond.

“Ons het klomp mense teleurgestel en dit was nooit die plan gewees nie. Ons sal hierdie sege geniet, maar daardie gevoel van wat kon gewees het, sal heeltyd by ons spook.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Riaan ·

Ag tog, nou wen hulle seker alweer die world cup 2023.
Chokers geen druk tans.

Waarheid ·

Gee vir hulle ‘happy’ pille voor groot wedstyde dalk help dit.

Michael P ·

Politiek seevier al weer ek hoop ANC tevrede met die span se welslae by die World. Cup.

Andreas ·

Wat van ons verwelkom hulle hier met ‘n klomp daggapizzas.

LHS ·

Nee Francois julle het niemand teleurgestel nie, inteendeel die meeste Suid Afrikaners is nog nie heeltema tevrede met die samestelling in kwotas nie. Uitslae is nie van belang nie.

Andreas ·

Jip, met Sri Lanka nou 7 de en SA 8’e op die punteleer uit die 10 spanne wat kompiteer.

YouMustBeChoking ·

En as hul Aussies wen dan kan Finch vir Faf geluk wens met ‘n ‘geniet jul vlug huis toe’…

Nico ·

En nog steeds kan hulle nie konsekwent wees nie want wrintiwaar wen hulle ‘n wedstryd.

Valerie ·

Proteas van ouds? Alles behalwe. Dalk verstaan die skrywer nie hoe belaglik onbelangrik hierdie wedstryd was nie en ‘n pyniging om net vyf minute daarvan te kyk. Soos Riaan sê, nou dink hulle en die media die WC 2023 is hulle s’n. Nee, hulle moet maar van nou af saam met die minnows speel; dit is waar hulle hoort. S/L was so min lus vir die spul as wat kan kom.

Leon Strydom ·

Met hierdie wen het hulle weereens baie duidelik bewys dat hulle n spul “chokers” is wat net kan wen as daar geen druk op die span is nie. Nee wat, klomp onvoorbereide, afgeleefde en swak span wat deur n kwotastelsel bevorder word verdien alle kritiek teen hulle!!!

Vintcent ·

Bedenklike IKs en verwaandheid was nog nooit ‘n resep vir sukses nie. Vra die “springbokke”.

PeetVos ·

Kom ons kyk maar eers hoe die Proteas teen Aus vaar in laaste wedstryd voordat ons te liries raak. Ons krieket is nie op ‘n goeie plek nie!

Kallie ·

Sê nie veel nie. Die Proteas van ouds kon ook nie die beker wen nie.

George in Bloem ·

Met absoluut niks op die spel in hierdie wedstryd nie bevestig hulle maar net weereens dat hulle “choker” etiket om hulle nekke welverdiend is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.