Proteas staan bont in eerste eendagwedstryd

AB de Villiers. Die Proteas se eendagkaptein red sy span saam met Andile Phehlukwayo. (Foto GB Jordaan)

AB de Villiers. Die Proteas se eendagkaptein red sy span saam met Andile Phehlukwayo. (Foto GB Jordaan)

Suid-Afrika was Sondag in die eerste eendaagse krieketwedstryd teen Nieu-Seeland skynbaar heeltemal in beheer toe eers eina-boulwerk teen die einde, en toe hulle middelkolwers, hulle in die steek gelaat het.

Dit het ʼn laat-kolfaanslag deur die kaptein AB de Villiers (37 nun in 34 balle) en die veelsydige Andile Phehlukwayo (29 in 23 balle) geverg om die kastaiings uit die vuur te krap in die wedstryd wat deur ʼn nat buiteveld na 34 beurte per span verminder is.

Nieu-Seeland is tot 207/6 beperk nadat De Villiers hulle ingestuur het.

De Villiers het die wenlopies met ʼn vier van die voorlaaste bal geslaan nadat die Proteas met drie boulbeurte oor nog 29 lopies, en toe met 14 balle oor 22 lopies, benodig het.

De Villiers en Phehlukwayo het aanvanklik versigtig gekolf nadat die Proteas van 117/1 na 156/6 ineengestort het. Hier teen die einde het hulle losgetrek en Phehlukwayo se ses in die 32ste boulbeurt het waarskynlik die balans van die wedstryd laat swaai. Nog een het in die volgende boulbeurt gevolg.

Nieu-Seeland het, soos Suid-Afrika, twee draaiers gebruik. Imran Tahir is goed deur die tuisspan gehanteer en het nie ʼn paaltjie geneem nie en Tabraiz Shamsi het ook net een paaltjie gekry terwyl hulle saam 81 lopies in 14 beurte afgestaan het.

Die Kiwi’s se twee draaiboulers Ish Sodhi en Mitchell Santner het die stadige kolfblad beter gebruik en die Proteas se kolwers al hulle dae gegee en was hier en daar met stadige wip en draai bykans onspeelbaar.

Die kaptein Kane Williamson het die goeie paaltjie van Hashim Amla geneem en Tim Southee het meer wegbreke as snelballe afgestuur en baie goed met sy stadiger bal gevaar.

ʼn Papnat buiteveld het gemaak dat die eerste eendagwedstryd tussen die Proteas en Nieu-Seeland op Seddon Park in Hamilton  tot 34 boulbeurte verkort is.

AB de Villiers het besluit om eerste te boul aangesien die buiteveld stadig was en die kolfblad eerder mettertyd vir die kolwers sou verbeter.

Chris Morris het sy aggressiewe boulwerk van Vrydag se T20-wedstryd voortgesit en in ʼn stadium was sy syfers 4/24. Maar in die laaste van sy sewe beurte wat met die verminderde beurte per kolfbeurt toegelaat is, het die Proteas se greep op die wedstryd lelik geglip toe Morris eers 13 en toe 25 lopies afgestaan het.

Die Swart Pette het in hulle laaste 29 balle voor die penne 51 lopies, amper elf lopies per beurt, aangeteken met Colin de Grandhomme wat 34 in 19 balle en Southee (19 in 13 balle) wat die Proteas verniel het.

Hulle kaptein Williamson se 31 het ‘n goeie dog stadige grondslag gelê, maar op 108/5 na 21.5 beurte was die Proteas deeglik in beheer.

♦  Suid-Afrika se eerste paaltjie het eers in die in die 16de boulbeurt geval toe Hashim Amla met sy telling op 35 en die totaal op 88/1 deur Williamson gevang en geboul is. Faf du Plessis(14) is deur Sodhi beenvoor betrap en die telling was 117/2 in die 21ste boulbeurt

Quinton de Kock het weer sy gehalte bewys. Hy is vir 69 van 64 balle gevang. JP Duminy (1) is deur Southey van ʼn stadiger bal gevang en geboul (126/40) en Behardien is met die volgende bal skoongeboul (126/5).

Skielik was die Proteas onder druk om die wenteiken van 208 lopies te haal met 74 balle om die benodigde 82 lopies aan te teken. Toe Morris op 156/7 moes stap, was die teiken nog 52 lopies ver met net 50 balle oor.

De Villiers-hulle het egter met oorleg gekolf. Die vereiste lopietempo het wel na 7.36 gestyg en hier na die einde toe  oor die agt lopies per beurt gedraai. Tot Phehlukwayo se erste ses toe dit getel het …

Klik hier vir die volledige telkaart: http://www.espncricinfo.com/new-zealand-v-south-africa-2016-17/engine/match/1020031.html

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.