Proteas stewig in die saal op Wanderers

Faf du Plessis. Foto: ANA via Twitter/OfficialCSA

Die derde dag van die vierde en laaste kriekettoets tussen Suid-Afrika en Australië het baie stadiger gevorder as wat alle Protea-ondersteuners voor gehoop het. Australië het hul eerste beurt op 110/6 (38 boulbeurte) hervat en hulle het uiteindelik 221 lopies aangeteken. Dit was nog 267 lopies kort van Suid-Afrika se telling van 488. Suid-Afrika het nie die opvolgbeurt afgedwing nie, maar het self gaan kolf.

In die oggendsessie het die Aussies behoorlik vasgeskop en die telling van 110/6 na 201/7 geneem teen middagete.

In die tweede sessie van die dag het Australië hul laaste drie paaltjies verloor en was uiteindelik almal uit vir 221. Dit was nog 267 lopies kort van Suid-Afrika se eerste beurt van 488. Tim Paine het 62 lopies bygedra en Pat Cummins 50. Met die bal het Philander, Rabada en Maharaj elkeen drie paaltjies geneem. Morné Morkel het ʼn besering opgedoen, maar hy behoort gereed te wees om in die tweede beurt van Australië te boul.

Suid-Afrika het drie paaltjies in hul tweede kolfbeurt verloor. Markram (37), Amla (16) en De Villiers (6) het hul paaltjies verloor voordat die dag se spel tot ʼn einde gekom het.

Teen uitskeityd was die Proteas op 134/3 wat aan hulle ʼn baie goeie voorsprong van 401 lopies gee met nog sewe paaltjies staande in hul tweede beurt.

Dean Elgar (39) en Faf du Plessis (34) sal Maandag die Proteas se beurt voortsit.

Die Proteas loop met 2-1 voor in die reeks en al eindig hierdie vierde toets onbeslis, sal Suid-Afrika steeds die reeks inpalm. Die Aussies het die eerste toets gewen en die Proteas die tweede en derde toetse.

Die vierde dag se spel is geskeduleer om Maandag om 10:00 op die Wanderers te begin.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.