Proteas sukkel met kolfwerk, veldwerk in Pakistan

Foto: Aamir Qureshi/AFP.

“Catches win matches”,  het laerskool-afrigters altyd gesê.

Dit is egter duidelik dat die Proteas heeltemal van hierdie stukkie raad in die tweede toets teen Pakistan in Rawalpindi vergeet het.

Ja, Temba Bavuma het met ’n skitterende poging vir Fawad Alam in die eerste beurt uitgehardloop. Maar hy het self ook – saam met Quinton de Kock en Dean Elgar – ’n vangskoot of twee in die toets verbrou.

Om dinge in perspektief te plaas: die Proteas het reeds met vyf vangskote van slegs Keshav Maharaj se boulwerk in die reeks misgetas.

Darryl Cullinan – wat anders as wat Afrikaanse sangers aanraai, ’n mens nie saggies neersit nie – het sy mond behoorlik oor die Proteas se powere veldwerk uitgespoel.

Die voormalige hardebaard-Protea het jare lank diens in die glippe gedoen en hy was veral krities oor die Suid-Afrikaners se pogings wanneer hulle naby die kolwer staan.

Volgens Cullinan was Suid-Afrika altyd onder die voorste veldwerkspanne in wêreldkrieket. Hy kan ongelukkig nie meer dieselfde van die huidige span sê nie.

Voeg daarby ’n kolflys wat sukkel om meer as 200 lopies in ’n beurt aan te teken en jy sit met genoeg bestanddele vir ’n lekker reeksnederlaag.

Een van die ligpuntjies is egter die Suid-Afrikaners se boulwerk.

Keshav Maharaj (10) en Anrich Nortjé (9) het tot dusver die meeste paaltjies in die reeks geneem, terwyl George Linde (4/28) drie vinnige paaltjies gistermiddag laat spat het om die tuisspan op die agtervoet te plaas.

Linde het sy pinkie ernstig in die eerste beurt beseer, maar is steeds oorgehaal om sy beste te lewer.

“Ja, dit is seer. Maar ek verteenwoordig my land op die krieketveld en ek gaan vir niks terugstaan net omdat my vinger ’n bietjie seer is nie,” het Linde gesê.

Die Proteas kan egter nie net op hul boulers staatmaak om die kastaiings uit die vuur te krap, terwyl die kolwers en kleitrap nie.

Dit is soos om met ’n groot viertrekmotor in die stad rond te ry. Dit lyk aanvanklik baie oulik en ’n mens kan daarmee spog, maar op die ou einde is dit ’n nuttelose kopie.

  • Pakistan het tans 196/8 in sy tweede beurt – ’n voorsprong van 267 lopies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jan ·

Miskien moet hulle vuisies in die lug steek ! BLM mag dalk help .

MakersMark ·

Kom ons hoop die blm profete Faf, Ngidi en Bavuma red die slap knie proteas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.