Proteas teen Sri Lanka: Die Bulhond byt weer

Dean Elgar het sy 13de toetshonderdtal aangeteken. Foto: Phill Magakoe/AFP

Lig die hoed vir die bulhond Dean Elgar, want Suid-Afrika se krieketspan is stewig op koers na ʼn skoonskip-reeksoorwinning van 2-0 teen Sri Lanka op die Wanderers.

Maar daar was op die tweede dag ook ʼn paar onnodige spoke deur die besoekers opgejaag van hul skokoorwinning van 2-0 in die reeks teen die Proteas in 2019 in Suid-Afrika.

Sri Lanka het Maandagmiddag teen uitskeityd van die tweede dag 150/4 op die telbord gehad, ’n voorsprong van slegs vyf lopies met ses paaltjies staande.

Die Proteas het die hef heeltemal in die hande gehad toe Dean Elgar en Rassie van der Dussen Maandagoggend op 148/1 kom voortkolf het, wat ʼn agterstand van slegs nege lopies was nadat Sri Lanka vir 157 in sy eerste beurt uitgeknikker is.

Elgar wat 127 lopies (163 balle, 22×4) aangeteken het en Van der Dussen met 67 (127 balle, 12×4) het vir ʼn vennootskap van 183 gesorg wat die Proteas in ʼn onaanvegbare posisie geplaas het.

Elgar was weer die vegter, een wat die soveelste keer die grondslag gelê het. Dit was sy 13de toetshonderdtal en sy eerste op die Wanderers. Hy het 95 lopies in die Proteas se enigste kolfbeurt in die eerste toets in Centurion aangeteken en was weer die anker van die kolfbeurt.

Dean Elgar. Foto: Phill Magakoe/AFP

Maar ʼn onverklaarbare insinking met Faf du Plessis (8), Quinton de Kock (10), Temba Bavuma (19), Wiaan Mulder (7), Keshav Maharaj (2), Anrich Nortjé (13), Lutho Sipamla (5) en Lungi Ngidi (14*) het gevolg wat die ondersteuners laat kopkrap het.

Daar was geen ooglopende duiwels in die kolfblad nie, maar hoe kon agt paaltjies vir net 84 lopies gekantel het teen ʼn onervare boulaanval sonder vaart en aggressie?

Tog het Vishwa Fernando (5/101) die Proteas se kolflys se gorrel met sy akkurate swaaiboulwerk uitgeruk.

Sy vorige beste ontleding was 4/62 wat hy in 2019 ook teen die Proteas behaal het.

Met ʼn agterstand van 145 lopies het Sri Lanka eintlik geen wenkans gehad nie, maar die kaptein, Dimuth Karunaratne, met 91* (dit was sy 25ste toetsvyftigtal) en Lahiru Thirimanne (31) het veggees getoon en darem ʼn groot glimlag op afrigter Mickey Arthur se gesig gelaat.

Die groot slae is deur Ngidi (3/26) en Nortjé (1/41) uitgedeel, wat gerus vir De Kock en Maharaj op die skouer kan klop ná hul skitter vangkanse.

Maar wie moet die Proteas eintlik bedank: vir Dean Elgar!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.