Proteas tem Wanderers se kolfblad en Aussie-boulers

Foto: OfficialCSA, Twitter

Die tweede dag van die vierde en laaste kriekettoets tussen Suid-Afrika en Australië het ook aan Suid-Afrika behoort. Die Proteas het hul kolfbeurt op 313/6 hervat en die Wanderers-kolfblad en die Aussie-boulers behoorlik vasgevat. Die Proteas het uiteindelik ʼn uitstekende 488 in hul eerste beurt aangeteken. Teen uitskeityd was Australië op 110/6 (38 boulbeurte). Dit is nog 378 lopies kort van Suid-Afrika se totaal van 488 met net vier paaltjies staande.

Toe middagete aanbreek was Suid-Afrika reeds op 400/7 (T Bavuma 61, VD Philander 6).

In die tweede sessie van die dag het Suid-Afrika hul laaste drie paaltjies verloor. In die Proteas se beurt het Aiden Markram sy hoogste telling van 152 (4 x 17 en 1 x 6) aangeteken en so ook Keshav Maharaj wat 45 lopies opgestapel het. Die ongelukkigste kolwer was Temba Bavuma op 95 lopies (13 x 4) nie uit nie. Met die bal het Pat Cummins vyf paaltjies platgetrek vir 83 lopies. Suid-Afrika was almal uit vir ʼn baie goeie 488 lopies (136.5.bb). Kenners was van mening dat dit ʼn sogenaamde driehonderdlopies-kolfblad is.

Ná tee het Australië begin kolf met twee nuwe openingskolwers wat die mas moes probeer opkom. Vernon Philander was die doring in die Aussies se vlees en het drie paaltjies platgetrek. (Renshaw 8, Khawaja 53 en Handscomb 0). Kagiso Rabada het van Burns ontslae geraak vir vier lopies. Kort voor die einde van die dag se spel was Mitchell Marsh (4) ook terug in die pawiljoen toe Morné Morkel hom skoon geboul het en sy broer Shaun Marsh (16) moes hom volg nadat hy van die boulwerk van Maharaj uitgevang is.

Teen uitskeityd was Australië op 110/6 (38 boulbeurte). Dit is nog 378 lopies kort van Suid-Afrika se totaal van 488 met nog vier paaltjies staande.

Die Proteas loop met 2-1 voor in die reeks en al eindig hierdie vierde toets onbeslis sal Suid-Afrika steeds die reeks inpalm. Die Aussies het die eerste toets gewen en die Proteas die tweede en derde toetse.

Die derde dag se spel is geskeduleer om Sondag om 10:00 op die Wanderers te begin.

Klik hier vir meer inligting

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Veritas ·

Die Proteas moet nou net nie grootkop kry omdat hulle die toetsreeks waarskynlik gaan wen nie. Hierdie arme Aussie-span gaan deur ‘n moeilike tyd en is totaal ongemotiveerd. Gee hulle net ‘n rukkie om dié gebeurtenis te verwerk en jy sal ‘n totaal nuwe span sien. Aan die anderkant, glo ek nie dat net die drie geskorste lede betrokke was met die balpeutery nie. Ek twyfel ook of hulle die eerste maal van dié taktiek gebruik gemaak en toe uitgevang is. My vermoede is dat dit hul ou laai is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.