Proteas toer na Pakistan, ander spanne skrikkerig vir SA

Foto: Marco Longari/AFP.

Die Proteas sal vir die eerste keer in 14 jaar na Pakistan toer wanneer hulle vroeg volgende jaar twee toetse en drie T20-wedstryde teen die Asiese span speel.

Die Suid-Afrikaners het laas in 2007 na Pakistan getoer en wedstryde tussen die twee lande is daarna weens veiligheidsredes na die Verenigde Arabiese Emirate verskuif.

Die Pakistanse krieketraad is natuurlik verheug oor die stand van sake; die Proteas is die derde toetskrieketland – ná Sri Lanka en Bangladesj – wat weer in Pakistan wedstryde speel.

“Dit is wonderlike nuus vir Pakistanse krieket en ondersteuners. Selfs al het die Proteas laas in 2007 hier gespeel, bly hulle steeds een van die gewildste spanne in die land en plaaslike krieketliefhebbers volg graag hul vordering,” het Zakir Khan, Pakistan se direkteur van krieket, gesê.

Maar nadat die eendagreeks tussen die Proteas en Engeland weens Covid-19-verwante kwessies afgelas is, is Australië en Sri Lanka skrikkerig om na Suid-Afrika te toer.

Die besluit is deur Krieket Suid-Afrika (KSA) en die Engelse Krieketraad (ECB) geneem om die geestelike en fisieke gesondheid en welstand van spelers van albei spanne te verseker.

Dit volg nadat van die hotelpersoneel en Protea-spelers positief vir Covid-19 getoets het. Die twee Engelse spelers wat aanvanklik positief vir die virus getoets het, se uitslae is later as negatief bevestig.

Volgens die krieketkalender toer Australië in Februarie 2021 na Suid-Afrika, maar volgens Cricinfo word daar reeds bespiegel oor die moontlikheid om die wedstryde na Australië te verskuif.

In dieselfde asem is Sri Lanka – wat later dié maand in ’n toetsreeks teen die Proteas gewikkel is – ook bekommerd oor die veiligheid van sy spelers wanneer hulle na Suid-Afrika toer.

“Ek moet ons spelers huis toe bring sonder een positiewe geval. Ons het versoek dat Suid-Afrika se bio-borrelregulasies ooreenstem met dít wat ons by die Lanka Premierliga gebruik,” het Sri Lanka se spandokter, dr. Daminda Attanayake, gesê.

Kugandrie Govender, KSA se uitvoerende hoof, het op haar beurt gesê dat al die nodige inligting en versekering aan Sri Lanka se krieketbase verskaf is.

  • Proteas se bepalings (tuisreekse):

26 Desember 2020 tot 7 Januarie 2021: Sri Lanka

14 Februarie 2021 tot 13 Maart 2021: Australië

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hoekom

Jammer maar krieket is dood vir my, nadat hulle eerder selektiewe en “hypocritical” politieke luidspreker wou speel en ‘n agenda wou af stoot instede van om te hou by sport, hulle eintlike beroep…

Die Wolf

Blameer jy die lande wat nie hier wil kom speel nie? Ek sal maar nie verder uitbrei nie.

Andrew

Kom ons kyk of enige van die lot iets te sê het of n lidmaat te buig het oor die vervolging van Christene en die hanteering van vroue in Pakistan?