Proteas trek swaar in derde kriekettoets

Argieffoto

Argieffoto

Suid-Afrika het na ʼn goeie begin op die tweede dag van die derde kriekettoets in Adelaide swaargekry teen die Australiese kolwers en was ondanks drie laat paaltjies met die nuwe bal teen uitskeityd reeds 48 lopies agter met nog vier Australiese paaltjies in hulle eerste beurt staande.

Australië het 307/ 6 in sy eerste beurt in antwoord op die Proteas se 259/9, beurt gesluit verklaar, met Usman Khawaja wat 138 onoorwonne lopies het en met sy kolfmaat Mitchell Starc op 15.

Suid-Afrika het die tweede dag goed begin en die boulers het die Aussies se kolwers Khawaja en die 20-jarige Matt Renshaw deeglik vasgepen. Kyle Abbott, wat met groot dissipline geboul het, het die paaltjie van Renshaw (10) en kort daarna die waardevolle paaltjie van David Warner (11), met die hulp van Dean Elgar in die glippe, ingepalm.

Die telling was toe 37/2 en sake het goed vir die Proteas gelyk.

Die Australiese kaptein, Steve Smith het toe by Khawaja aangesluit en die wedstryd het in ʼn ware toetswedstryd ontwikkel waar die kolwers wag vir die regte bal om te slaan en waar die boulers en die veldwerkers alles doen om die lopies te beperk.

Teen teetyd was die telling na 41 boulbeurte 109 /2 met Khawaja op 58 en Smith op 23.
Die derde paaltjie het eers met die telling 174/3 geval.

Smith was goed op dreef toe hy deur Vernon Philander op 59 uitgehardloop is. Hy en Khawaja het saam 137 lopies aangeteken voordat die misverstand tot die uithardloop van Smith gelei het.

Khawaja en die debutant, Peter Handscomb, het toe aan ʼn stewige vennootskap van 99 gebou voor Handscomb met sy telling op 54 deur Abbott met die nuwe bal skoongeboul is. Die telling was toe 273/4 en Australië stewig in die saal.

Maar die veelbesproke aandlug, die kolfblad, en die pienk bal het skielik ʼn rol begin speel. Nic Maddinson moes in sy eerste toets vir nul terugstap nadat Kagiso Rabada hom met ʼn onverbeterlike bal uitgeboul het. Philander het in die volgende boulbeurt op 283/6 die paaltjie van Matthew Wade gekry Maar toe het Khawaja en Starc vasgebyt en die voorsprong tot 48 lopies gevoer.

Opgesomde telkaart –

Suid-Afrika eerste beurt: 259/9 verklaar. (Kolwers: Faf du Plessis 118*, Stephen Cook 40, Quinton de Kock 24, Tabraiz Shamsi 18, Kyle Abbot 17. Boulers: Josh Hazlewood 4/68, Mitchell Starc 2/78, Jackson Bird 2/57, Nathan Lyon 1/45.)
Australië eerste beurt: 307/6 (Kolwers: Usman Khawaja 138*, Mitchell Starc 16*, Steve Smith 59, Peter Handscomb 54. Boulers: Kyle Abbott 3/38, D Philander 1/82, Kagiso Rabada 1/61)
Australië is 48 lopies voor met vier eerstebeurt-paaltjies staande.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kobus ·

Was dit nou arrogansie dat Far die beurt verklaar het….wonder maar net of die mentjies kop toe gegaan het

Nico ·

Dit is opmerklik noudat arrogante Faf nie die bal wederregtelik blink kan maak nie sukkel die boulers om paaltjies te kry.

Hennie ·

Ek wil ook weet hoekom verklaar Faf reeds op 259? Dit was regtig dom astrante arrogansie . . !

Henry ·

Die Proteas het reeds die slag teen die moeilike Aussies op hul tuisvelde gelewer deur die eerste twee van drie toetse oortuigend te wen. Faf het weereens bewys dat hy ‘n uitstekende leier en kolwer is. Sy poging om die Aussies vroeg onder druk te plaas het hierdie keer nie gewerk nie. Daar is bowendien nie veel hoop om die SA telling veel hoër op te stoot met ‘n bouler wat as no 11 kolwer sy kolfmaat was nie. Hopelik sal die kolwers weereens, soos vorige kere, die wa deur die drif trek.
Sommige kommentare laat mens onwillekeurig aan oorle’ Abraham Lincoln se bekende/berugte gesegde dink…
:-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.