Proteas trek swaar, maar steeds goed geplaas

krieket-sa-logoSuid-Afrika was Donderdag na die tweede dag se spel op die Universiteitovaal in Dunedin steeds goed geplaas in die eerste kriekettoets teen Nieu-Seeland.

In die geheel het die dag egter aan die tuisspan behoort. Eers het die Proteas se kolwers teleurgestel en toe het die boulers gesukkel om werklik indruk te maak.

Op ʼn makkerige kolfblad waar Suid-Afrika die inisiatief na die eerste dag effens laat skiet het en sy laaste ses paaltjies vir net 56 lopies verloor het, het Nieu-Seeland die gebrek aan wip en sywaartse beweging goed uitgebuit en teen uitskeityd 177/3 op die telbord gehad –  ʼn agterstand van 131 lopies met nog sewe paaltjies staande.

Daar was egter vir die tuisspan ook ʼn terugslag toe een van hul twee voorste kolwers, Ross Taylor, van die veld gehelp is met wat klaarblyklik ʼn kuitspier-besering is. Hy het toe agt nun gehad. Dit is onseker of hy Vrydag sal kan kolf.

Jeet Raval (52, ses viere) en Kane Williamson (78 nun) het die grondslag gelê en na die verlies van Tom Latham (10) op 15/1 ʼn vennootskap van 102 daargestel voordat Raval sy konsentrasie effens verslap het en van ʼn oënskynlik maklike bal van Maharaj  op vlakdekpunt deur Dean Elgar uitgevang is.

Nieu-Seeland moes wel hard werk vir sy lopies, maar was selde in die moeilikheid teen akkurate boulwerk van die Proteas wat egter nie veel byt gehad het nie. Morné Morkel het ʼn keer of wat goeie wip gekry en hier reg teen die einde het Vernon Philander in die laaste boulbeurte effense beweging gekry.

Dit was egter Maharaj wat weer toegeslaan het toe Henry Nicholls (12) skitterend op glip deur Hashim Amla gevang is.

♦  Vroeër het die Proteas se oornagkolwers Elgar en Temba Bavuma (64) die oorstaantelling van 229/4 tot 252 geneem voordat die Kiwi’s toegeslaan het.

Elgar se 140 was sy hoogste toetstelling, en Bavuma het sy eerste vyftigtal in agt beurte aangeteken.

Na Elgar op 252/6 moes stap, het Quinton de Kock (10) met die telling op 265 vir die derde keer in drie kolfbeurte die slagoffer van Jeetan Patel geword. Daarna is Bavuma, Keshav Maharaj (5), Kagiso Rabada (4) en laastens Vernon Philander (21) uitgehaal vir ʼn teleurstellende beurttelling van 308.

Die boulers wat op die tweede dag die groot skade aangerig het, was Trent Boult, Neil Wagner en Patel.

Wagner het van Elgar ontslae geraak en 3/88 in die kolfbeurt geneem, Boult het Donderdag drie verdere paaltjies geneem vir ʼn ontleding van 4/64 en Patel (2/85) het twee  SA kolwers uitgehaal.

Klik op die skakel vir die volledige telkaart en statistieke van die toets se eerste twee dae – (http://www.espncricinfo.com/new-zealand-v-south-africa-2016-17/engine/match/1020041.html)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Koos1 ·

“Ross Taylor van die veld…… met ‘n kuitspier”?
Ek sou so hoop ja, anders waar sou hy dit dan gelos/verloor het. Komaan Maroela, dis nie hoe ‘n mens in Afrikaans praat nie. Sou ‘n “kuitspier besering” nie beter geklink het nie?

Janie Monsieur ·

Dagsê Koos1,

Dankie vir jou terugvoer. Jammer vir die oorsig en dankie dat jy ons daarop gewys het! Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.