Proteas (uiteindelik) op die voorvoet teen Kiwi’s

Kagiso Rabada het drie paaltjies in Nieu-Seeland se eerste beurt geneem. Foto: Twitter via IKR.

Die Proteas kan hulself ’n klop op die skouer gee ná die tweede dag se spel in Christchurch. Want teen uitskeityd het Nieu-Seeland 157/5 op die telbord gehad; nog 207 lopies weg van die Suid-Afrikaners se eerstebeurttelling van 364.

Ja, sal die skeptici sê, Dean Elgar-hulle moes eintlik baie meer lopies gekry het terwyl die boulers toegelaat het dat Colin de Grandhomme die bal hopeloos te maklik na die grens gejaag het.

Maar ná die fiasko van die eerste toets kan ondersteuners trots wees op die Proteas se terugvegpoging. Hulle was ’n paar dae gelede teen die planke; vandag het hulle darem ’n hele paar houe ook ingekry.

Matt Henry en Neil Wagner het korte mette van die besoekers se middelorde gemaak. Temba Bavuma, Kyle Verreynne en Rassie van der Dussen het kort op mekaar se hakke die pad terug na die kleedkamer aangepak.

Marco Jansen (37) en Keshav Maharaj (36) het weer die Suid-Afrikaanse skip na ’n veiliger waters gestuur met hul vennootskap van 62.

Maharaj was lekker aggressief, terwyl Jansen weer eens nie vir sy teenstanders teruggestaan het nie – hierdie keer het sy tweestryd met Neil Wagner vir goeie vermaak gesorg.

Op die boulfront het Kagiso Rabada vinnig van die Kiwi’s se openingskolwers ontslae geraak, terwyl Jansen die gevaarlike Devon Conway uitgeknikker het.

Die Nieu-Seelanders het met hul telling op 99/5 gewankel, maar ’n goeie vennootskap tussen Colin de Grandhomme en Daryl Mitchell het die Kiwi-kastaiings uit die vuur gekrap.

Veral De Grandhomme was in ’n veglustige bui en hy het nege grenshoue in sy onoorwonne beurt geslaan.

Tog wil die Proteas hierdie toets wen. Hulle wil nie as die eerste Suid-Afrikaanse span bekendstaan wat ’n reeks teen die Swartpette verloor het nie.

  • Opsomming van telkaart:

Proteas 364/10 in 133 boulbeurte: Sarel Erwee 108, Aiden Markram 42 en Neil Wagner 4/102.

Nieu-Seeland 157/5 in 45 boulbeurte: Colin de Grandhomme 54*, Henry Nicholls 39 en Kagiso Rabada 3/37.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.