Proteas val uit die bus teen Bangladesj

Temba Bavuma was nie tevrede met die Proteas se vertoning nie. Foto: Phill Magakoe/AFP.

’n Mens kan seker nie té negatief wees nie – die Proteas verloor deesdae knaend die eerste wedstryd van ’n reeks, net om in die daaropvolgende wedstryde terug te veg – maar om teen Bangladesj in Centurion (van alle plekke) vas te val, is darem ’n bietjie te erg.

Suid-Afrika het gisteraand die eerste eendagwedstryd teen die besoekers met 38 lopies verloor nadat hulle nie daarin kon slaag om 315 lopies vir ’n oorwinning aan te teken nie.

Dit was Bangladesj se eerste oorwinning in ’n eendagwedstryd teen die Proteas in Suid-Afrika. En nadat hulle vroeër met Nieu-Seeland in Mount Maunganui in ’n toets klaargespeel het, is dit duidelik dat die Tiere ook deesdae weg van die huis vir spanne kan grom.

Die Protea-boulers was gister hopeloos te duur (lees Lungi Ngidi 1/75 en Andile Phehlukwayo 1/63) en hulle het meer as 170 lopies in die laaste 20 boulbeurte afgestaan.

Wat kolfwerk betref, kon eintlik net Rassie van der Dussen (86) en David Miller (79) enige weerstand bied, terwyl Aiden Markram (0) weer eens vinnig uitgehaal is.

’n Reeksoorwinning wink ook nou vir die besoekers; hulle moet net môre se wedstryd op die Wanderers wen.

Temba Bavuma het ná die wedstryd nie doekies omgedraai nie. Volgens die Protea-kaptein sal daar hard met die boulers en kolwers gepraat moet word.

“Dit is moeilik nadat ons so baie lopies in die laaste paar boulbeurte afgestaan het. Normaalweg is ons baie aanpasbaar, maar nou het dit vir ons te lank geneem. Ons sou tevrede gewees het om 280 lopies op hierdie kolfblad te jaag, maar daardie ekstra 40 lopies was uiteindelik die verskil gewees.”

Hy glo dat daar nie iets soos ’n maklike wedstryd teen Bangladesj is nie.

“Sondag is ’n wedstryd wat ons net móét wen. Ons sal in alle fasette van die spel moet verbeter en speel soos wat ons weet ons kan.”

  • Opsomming van telkaart:

Bangladesj 314/7 in 50 boulbeurte: Shakib Al Hassan 77, Yasir Ali 50 en Keshav Maharaj 2/56.

Proteas 276 in 48,5 boulbeurte: Rassie van der Dussen 86, David Miller 79 en Mehidy Miraz 4/61.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.