Proteas veg terug, klop Engeland met drie lopies

AB de Villiers – 46 lopies in 20 balle met vier vierde en drie sesse (Foto: GB Jordaan)

Suid-Afrika het Vrydagaand in Taunton ʼn swakkerige telling met goeie boulwerk verdedig en die tweede T20-wedstryd teen Engeland gewen.

Die uitslag van die wedstryd was tot met die laaste bal nog in die weegskaal. Die Proteas het met drie lopies gewen. Die derde en beslissende wedstryd word Sondag (15:30) in Cardiff gespeel.

Met hierdie oorwinning het die Proteas grootliks vergoed vir Woensdag se vernederende neerlaag in die eerste T20.

Die Proteas het Morné Morkel en Chris Morris Vrydag weer in die span ingesluit om die boulwerk te versterk. Dane Paterson het ook speelkans gekry terwyl Imran Tahir, Wayne Parnell en Dwaine Pretorius weggelaat is.

Die Engelse span het ook spelers roteer. Tom Curran het ʼn baie suksesvolle internasionale buiging gemaak deur 3/33 te neem. Liam Livingstone is ook as ʼn nuweling ingesluit en Mark Wood en Liam Plunkett is ruskans gegee.

Die Proteas is ingestuur en het vinnig weggespring. Die eerste paaltjie van Reeza Hendricks het in die vierde boulbeurt geval met die telling op 25. JJ Smuts (45, 35 balle, vier viere, drie sesse), AB de Villiers (met sy 46 lopies wat in 20 balle met vier viere en drie sesse aangeteken is) en Farhaan Berhardien (32) was die voorste kolwers maar die totaal van 174 in die toegelate 20 boulbeurte was volgens plaaslike kenners sowat 20 lopies te min op die kleinerige veld.

♦  Chris Morris het die eerste paaltjie van Sam Billings in die tweede boulbeurt op 15 geneem. Maar toe het Jason Roy en Jonny Bairstow vasgeskop en teen ʼn goeie tempo lopies aangeteken.

Bairstow is van Morris se boulwerk vir 47 in 37 balle gevang. Die telling was toe 125/2 in die 14de boulbeurt.

Twee boulbeurte later is Roy vir obstruksie van die veldwerkers uitgegee. Hy het oor die kolfblad in die pad van die bal ná ʼn ingooi gehardloop om ʼn uithardloop te keer. Roy is die eerste kolwer wat in ʼn internasionale T20-wedstryd op dié wyse uitgegee word.

Hy het  67 van 45 balle aangeteken.

Die hoogste telling daarna was dié van Liam Livingstone wat 16 gemaak het voor hy uitgehardloop is.

Morris het die beste van die Proteas se boulers gevaar. Hy het in sy vier boulbeurte 2/18 geneem.

Die volledige telkaart kan op die volgende skakel gesien word: http://www.espncricinfo.com/england-v-south-africa-2017/engine/match/1031433.html

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieterlewismuts ·

Geluk aan.die Proteas met.hul oorwinning.
Sport op sulke Internasionale vlak behoort altyd so naby verloor of gewen te word.
Dit laat n mens.dan tog wonder wat die resultaat sou wees as dit n “T/21” wedstryd was.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.