Proteas verloor nog ’n witbalkrieketwedstryd

Beuran Hendricks en Heinrich Klaasen. Foto: Christiaan Kotze/AFP.

Daar is ondersteuners wat mor dat meer positief oor die Proteas berig moet word. Ja, dit is so en daar is verskeie spelers wat met baie goeie individuele vertonings vorendag kom; maar wat moet ’n mens dan sê as die span uiteindelik verloor?

Krieket moet immers as ’n spansport beoordeel word.

Gister op die Wanderers het individue soos Aiden Markram, Heinrich Klaasen, Pite van Biljon, Beuran Hendricks en Tabraiz Shamsi teen Pakistan beïndruk; tog het die span op die ou einde met vier paaltjies verloor.

Klaasen en kie het eerstens amok met die kolf gemaak en hulle kon selfs die besoekers se draaiers ’n ding of twee wys.

’n Hele paar Protea-kolwers het met ’n treftempo van hoër as 130 gespog en dit het die tuisspan in staat gestel om ’n mededingende 188/6 in hul toegelate 20 boulbeurte aan te teken.

’n Goeie Hendricks-boulskof het gesorg dat Pakistan op 132/5 in hul beurt steier en hulle moes teen 13 lopies per beurt kolf om die wedstryd te wen.

Maar Mohammad Rizwan (74 van 50 balle) en Faheem Ashraf (30 van 14 balle) het koelkop gebly om die een grenshou na die ander van die onervare Protea-boulers te slaan.

Arme Klaasen – wat die span in die plek van die beseerde Temba Bavuma aangevoer het – het gereeld met sy moedelose boulers gaan praat.

Lizaad Williams het toe inderdaad vir Ashraf in die laaste boulbeurt van die wedstryd skoongeboul, net om toe te kyk hoe Hasan Ali met ’n paar woer-woer-houe die wenlopies slaan.

Toegegee, die Proteas was sonder sterboulers soos Lungi Ngidi, Kagiso Rabada en Anrich Nortjé, maar sou Ngidi – wat die eendagreeks met ’n eina-boulgemiddeld van 131 afgesluit het – veel beter gevaar het?

Dalk verras die Proteas nog almal deur die komende T20-Wêreldbeker in Indië te wen en dit sal ’n baie mooi storie wees. Maar dit sal ook lekker wees as hulle vooraf ’n witbalkrieket-reeks kan wen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Thelsa ·

Totdat ons ou Blomspannetjie geleer het dat die spel bestaan uit 3 kompo nente nl boul-, kolf- en veldwerk sal ons altyd maar die ettiket om ons nek moet dra as Chokers.

Rentia ·

As jy die knie wil buig, omdat een lewe veel meer belangriker is as ander, moet jy maar aanhou verloor. Sport kan my nie in die minste meer pla nie! Aksies en gesindhede het reaksies, en die gevolge moet julle maar gerus ook dra.

Kirst ·

Waarom dan die berig lees as jy so min belangstel in die span?

Jr ·

Die probleem is die boulers. GEEN VARIASIE. Te veel wyds, te veel vol balle. Laaste game op een stadium en nog nie klaar geboul – 20 extras. DIS DRIE EXTRA OVERS. GENADE. BLM. Black bowlers matter.

Dirk Mostert ·

‘n Ster-bouler met gemiddeld van 131?? Waarom het Markram nie ‘n enkele beurt geboul nie, terwyl die ontwikkelingsboulers klei getrap het? Of is daar ‘n verpligte kwota BEE-boulbeurte?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.