Proteas verras met nuweling-draaiers vir toetsreeks

Argieffoto

Argieffoto

Twee draaiboulers sonder toetservaring, van wie die een in April laas meerdaagse krieket gespeel het, is ingesluit in die Suid-Afrikaanse span vir die toer na Australië waar drie toetse gespeel sal word.

Die Proteas se keurders het verras met die keuse van die onortodokse linksdraaier Tabraiz Shamsi wat in die laaste eendaagse wedstryd teen Australië baie goed geboul het en ʼn mede-linksdraaier, Keshav Maharaj.

Shamsi het in die driehoekige reeks in Wes-Indië ook goed geboul. Die gedagte agter die twee se insluiting is duidelik om die Aussies te probeer vaspen en frustreer met balle wat weg van die regterhandse kolwers draai.

Dane Piedt, wat teen Engeland en Nieu-Seeland wel suksesvol was, se paaltjies het hom egter te duur gekos en hy het nie die paal gehaal nie.

Daar is egter die goeie nuus dat Morné Morkel van sy besering herstel het en fiks genoeg geag word. Kyle Abbot, wat die swak Aussie-eendagspan die naweek verwoes het, is ook ingesluit, en met Dale Steyn, Kagiso Rabada (wat albei in die huidige eendagreeks gesukkel het), Vernon Philander en Morkel ook daar het die Proteas potensieel ʼn gedugte snelaanval – mits almal op alle silinders vuur.

Dean Elgar is weer slaggereed ná sy besering en sal die beurt seker saam met Stephen Cook open. Rilee Riley, tot dusver sonder ʼn toets agter sy naam, sal seker in die middelorde in AB de Villiers se plek ingespan word.

Sy gewoonte om ná ʼn goeie begin sy paaltjie weg te smyt sal in die toetsarena deeglik beproef word.

Dane Vilas is die tweede paaltjiewagter – iets wat die afgelope jare selde nodig was met De Villiers wat die handskoene kan oorneem, sou Quinton de Kock nie kon speel nie.

Faf du Plessis sal die span in die plek van sy beseerde skole-spanmaat by Affies, De Villiers, aanvoer.

Die spanlede is:
Faf du Plessis (Titans, kaptein), Kyle Abbott (Warriors), Hashim Amla (Cape Cobras), Temba Bavuma (Highveld Lions), Stephen Cook (Highveld Lions), Quinton de Kock (Titans), JP Duminy (Cape Cobras), Dean Elgar (Titans), Keshav Maharaj (Dolphins), Morné Morkel (Titans), Vernon Philander (Cape Cobras), Kagiso Rabada (Highveld Lions), Rilee Rossouw (Knights), Tabraiz Shamsi (Titans), Dale Steyn (Cape Cobras) en Dane Vilas (Cape Cobras).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.