Puik Pant pla Proteas

Rishabh Pant op die voorvoet. Foto: Hansie Linde.

Die Proteas sal weer eens ’n teiken van meer as 200 lopies moet jaag om die derde en beslissende toets teen Indië te wen.

Die besoekers is pas vir 198 uitgehaal; ’n voorsprong van 211 lopies.

Nadat Cheteshwar Pujara en Ajinkya Rahane vroeg uitgeknikker is, het Rishabh Pant met ’n teenaanval vorendag gekom wat vir niks skrik nie.

Hy het eerstens ’n puik vennootskap met Virat Kohli geniet, waarna hy en Indië se stertkantkolwers gesorg het dat die Proteas se frustrasievlakke verder die hoogte inskiet.

Die veglustige paaltjiewagter het aggressief gekolf en Dean Elgar het sy veldwerkers op die grens gehou in ’n poging om grenshoue te keer en om meer aflewerings na die ander kolwers te boul.

Marco Jansen. Foto: Hansie Linde.

Maar soms werk alles nie volgens plan nie en Pant het sy vierde toetshonderdtal vanaf slegs 133 balle aangeteken.

Die tuisspan se boulers het te veel onnodige lopies afgestaan en Charl Langeveldt (boulafrigter) sal waarskynlik sy kop skud wanneer hy na al die foutballe (nege) in dié beurt kyk.

Trek Pant se beurt saam met al die foutballe en bylopies van Indië se telling af, dan het die res van die besoekers se kolwers net 70 lopies aangeteken.

Marco Jansen het weer eens geskitter en hy spog met ’n boulontleding van 4/36.

Die tafel is dus gedek vir die wankelrige Protea-kolforde om die wedstryd vir die tuisspan te wen.

Maar om vir Jasprit Bumrah in die laaste beurt van die beslissende toets te trotseer is beslis nie kinderspeletjies nie.

Michael Vaughan (oudkaptein van Engeland) het juis gesê dat dié Indiese snelbouler tans die beste bouler ter wêreld is.

  • Opsomming van telkaart:

Indië 223 ná 77,3 boulbeurte: Virat Kohli 79, Cheteshwar Pujara 43 en Kagiso Rabada 4/73

Suid-Afrika 210 ná 76,3 boulbeurte: Keegan Petersen 72, Temba Bavuma 28 en Jasprit Bumrah 5/42

Indië 198 ná 67,3 boulbeurte: Rishabh Pant 100*, Marco Jansen 4/36 en Lungi Ngidi 3/21

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.