Pure Rilee-spierkrag!

Rilee Rossouw het nóg ’n internasionale T20-honderdtal gemoker. Foto: Twitter.

As daar iemand is wat nóg bewyse soek om Rilee Rossouw se plek in die Protea-span te regverdig, kyk net na vandag se vertoning teen Bangladesj.

Die 33-jarige hotklou het vandag gewys dat spierkrag ʼn groot bate in mik-en-moker-krieket is toe hy 109 lopies vanaf slegs 56 aflewerings teen Bangladesj in Sydney geslaan het.

Rossouw, wat al in die eerste beurt sy verskyning op die veld gemaak het nadat Temba Bavuma weer eens sy paaltjie vroeg verloor het, het die Tiere se tande met 15 grenshoue getrek.

Hy het ʼn vennootskap van 163 lopies met Quinton de Kock (63 vanaf 38 aflewerings) om die tweede paaltjie gedeel om sodoende die grondslag vir Suid-Afrika se reusetelling van 205/5 in hul toegelate 20 boulbeurte te lê.

Die Bloemfontein-boorling handhaaf ʼn T20-gemiddeld van 68 sedert sy hertoetrede tot die internasionale verhoog en hy is ʼn baie belangrike skakel in die Protea-masjien.

Bangladesj moes uit die staanspoor tien lopies per boulbeurt aanteken as hulle die wedstryd wou wen en hulle het inderdaad ʼn stewige aanloop tot hul kolfbeurt geniet.

Soumya Sarkar en Najmul Shanto het 17 lopies vanaf Kagiso Rabada se eerste boulbeurt geslaan, maar toe loop hulle hulself teen ʼn begeesterde Anrich Nortjé vas.

Anrich Nortjé. Foto: Indranil Mukherjee/AFP.

Die Protea-blits het die spoedkrane behoorlik oopgedraai en sommer uit die staanspoor twee paaljties laat spat.

Tabraiz Shamsi het ook later onder die kolwers baljaar en die Tiere is vir slegs 101 lopies binne 17 boulbeurte uitgehaal.

ʼn Oorwinning van 104 lopies is die momentum-inspuiting wat die Proteas benodig het.

Tog sal daar indringend na Bavuma se vertonings met die wilgerlat gekyk moet word.

Ja, goeie spelpeil is net een beurt weg, maar daardie beurt is tans besig om loshande die wegkruipspeletjie met die beleërde Protea-kaptein te wen.

Suid-Afrika speel Sondag teen Indië in Perth.

  • Opsomming van telkaart:

Suid-Afrika 205/5 in 20 boulbeurte: Rilee Rossouw 109, Quinton de Kock 63 en Shakib Al Hassan 2/33.

Bangladesj 101/10 in 16,3 boulbeurte: Litton Das 34, Anrich Nortjé 4/10 en Tabraiz Shamsi 3/20.

Uitslag: Suid-Afrika wen met 104 lopies.

  • Hoe sake in Groep 2 van die T20-Wêreldbeker lyk:
  1. Suid-Afrika 3 punte
  2. Indië 2 punte
  3. Bangladesj 2 punte
  4. Zimbabwe 1 punt
  5. Pakistan geen punte
  6. Nederland geen punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Frank ·

Die vorm spelers kan nie langer vir Bavuma dra nie.
Ja, hy gaan eendag sy vorm herwin dan gaan hy weer ‘n staatmaker wees. Maar nie tydens hierdie T20 wereldbeker waar ELKE bal tel nie. Jammer vir hom, maar die beker is belangriker.
Tog het ek so gedagte dat KSA wil he die ander spelers moet hom dra. Ten koste van….

Casper ·

Ja kyk selfs die gehardste Bavuma ondersteuners sal erken dat hy op sy huidige vorm nie sy plek in die span verdien nie en daar sal indringend besin moet word om hom uit te laat.Hy kan ook nie laer af kolf nie want selfs in die middelorde is stabiliteit noodsaaklik maar ek glo die transformasie spook sal wen.

George ·

En Bouch en kie staan nogsteeds by Mark se kaptein besluit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.