Quinny het nou meer 100-talle as Gilly

Quinton de Kock (Foto: Hansie Linde)

Trek enige ou DVD nader waar ’n voormalige krieketspeler sy beste eendagkrieketspan van alle tye moet kies en Adam Gilchrist se naam sal waarskynlik heel bo aan sy kolflys pryk.

Die Australiese paaltjiewagter word immers wyd en syd as een van die beste spelers ooit beskou – hy was uitstekend agter die paaltjies, terwyl sy aggressiewe kolfwerk gesorg het dat die Aussies so gereeld soos klokslag hul kolfbeurt op ’n drafstap begin het.

In 287 eendagwedstryde het hy lopies teen ’n treftempo van 96,94 gemoker terwyl hy 16 honderdtalle aangeteken het.

Baie Australiese krieketkenners meen dat daar nie sommer gou weer ’n paaltjiewagter/kolwer van Gilchrist se gelyke op die wêreldkrieketverhoog sal wees nie.

Maar toe die Proteas se Quinton de Kock die afgelope Sondag 124 lopies in die derde en laaste eendagwedstryd teen Indië aangeteken het, het ’n mens aan ’n paar ooreenkomste tussen hom en Gilchirst gedink.

Al twee is linkshandige openingskolwers in die eendagkrieket-arena wat daarvan hou om hul unieke stempel sommer vroeg al op die wedstryd af te dwing, terwyl hulle flinke diens agter die paaltjies lewer.

Met die bogenoemde skitterbeurt teen Indië het De Kock egter sy 17de honderdtal in slegs sy 127ste wedstryd (160 minder as Gilchrist) aangeteken.

G’n wonder sy Protea-spanmaats is bly om hom weer in die span te hê nie.

Janneman Malan, wat onlangs deur die Internasionale Krieketraad as sy opkomende speler van die jaar vereer is, het die 29-jarige paaltjiewagter se lof besing.

“Wanneer Quinny eers op dreef is, is hy ongetwyfeld een van die beste kolwers ter wêreld. Hy kan ongelooflike houe speel,” het Malan gesê.

Quinton de Kock se eendagrekord:

In sy 127 wedstryde het hy 5 584 lopies teen ’n gemiddeld van 46,14 geslaan. Sy hoogste telling is 178 en hy het 17 honderdtalle en 27 vyftigtalle gemoker.

Adam Gilchrist se eendagrekord:

In 287 wedstryde het hy 9 619 lopies teen ’n gemiddeld van 35,89 geslaan. Sy hoogste telling is 172 en hy het 16 honderdtalle en 55 vyftigtalle gemoker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

piet ·

Dis uitstekend. Hy slaan ‘n 100-tal elke sewende beurt. Dit wil gedoen wees. Die ou om mee te vergelyk egter is eintlik Sangakkara en nie Gilchrist nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.