Quinny laat waai teen RCB

Quinton de Kock het ’n goeie beurt teen die Royal Challengers Bengaluru gespeel. (Foto: X/IPL)

Wat tydsberekening en houespel betref, is daar nie veel beter kolwers as Quinton de Kock wanneer hy op alle suiers vuur nie.

Die 31-jarige speler was op sy beste (vir oulaas) vir die Proteas in die Wêreldbeker-eendagkriekettoernooi, waarna hy ʼn bietjie in Australië (Big Bash League) en Suid-Afrika (SA20) gesukkel het.

Maar hy is nou weer op dreef in die Indiese Premierliga (IPL) en hy het Dinsdag 81 lopies vir die Lucknow Super Giants teen die Royal Challengers Bengaluru geslaan.

De Kock het 13 grenshoue in sy beurt van 56 aflewerings geslaan en die Super Giants kon danksy sy poging 181/5 in hul toegelate 20 boulbeurte aanteken.

Daarna het die blitsige Mayank Yadav weer eens die spoedkrane oopgedraai, teen vinniger as 150 km/h geboul en drie paaltjies geneem om ʼn goeie Lucknow-oorwinning van 28 lopies af te rond.

Faf du Plessis het 19 lopies vir die Royal Challengers aangeteken voordat hy uitgehardloop is.

  • Opsomming van die telkaart:

Lucknow Super Giants 181/5 in 20 boulbeurte: Quinton de Kock 81, Nicholas Pooran 40 en Glenn Maxwell 2/23.

Royal Challengers Bengaluru 153/10 in 19,4 boulbeurte: Mahipal Lomror 33, Mayank Yadav 3/14 en Naveen-ul-Haq 2/25.

  • IPL-punteleer:
  1. Rajasthan Royals: 6 punte ná drie wedstryde
  2. Kolkata Knight Riders: 4 punte ná twee wedstryde
  3. Chennai Super Kings: 4 punte ná drie wedstryde
  4. Lucknow Super Giants: 4 punte ná drie wedstryde
  5. Gujarat Titans: 4 punte ná drie wedstryde
  6. Sunrisers Hyderabad: 2 punte ná drie wedstryde
  7. Delhi Capitals: 2 punte ná drie wedstryde
  8. Punjab Kings: 2 punte ná drie wedstryde
  9. Royal Challengers Bengaluru: 2 punte ná vier wedstryde
  10. Mumbai Indians: geen punte nie ná drie wedstryde

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

Dan trek hulle n Protea trui aan en kan nie 23 teen Nederland slaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.