Quinny lewer kragvertoning in plaaslike reeks

Quinton de Kock in die kleure van die Titans. Foto: Twitter.

Quinton de Kock is weliswaar vir ’n nulletjie in die Titans se eerste wedstryd teen die Warriors in die plaaslike T20-reeks uitgeknikker, maar die talentvolle paaltjiewagter het gister sy stempel op die toernooi afgedruk.

Die internasionale krieketster het 72 lopies van 61 aflewerings in die Pretorianers se naelbytsege van drie lopies teen die Boland gemoker.

Sy beurt het ses grenshoue ingesluit.

Vir die Bolanders het die twee broers, Janneman (45 van 31 balle) en Pieter Malan (19 van 17 balle), blitsig weggetrek om 67 lopies in die eerste agt boulbeurte aan te teken.

Die span se kolwers het egter stoom verloor en die wenteiken van 159 was uiteindelik net te ver.

Dan is Richard Levi ook aan die brand vir die Westelike Provinsie.

Die 34-jarige openingskolwer – wat destyds ’n honderdtal van slegs 45 aflewerings teen Nieu-Seeland in Hamilton gemoker het – slaan sy lopies teen ’n treftempo van 191,07 in die plaaslike reeks.

Hy het in sy twee beurte reeds 107 lopies aangeteken, met ’n hoogste telling van 67 teen Boland.

Ondanks sy seslaanvermoë het hy nog net 21 mik-en-mokerwedstryde vir die Proteas gespeel en hy het veral teen internasionale draaiers begin sukkel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

Ekt altyd groot hoop vir Levi gehad, maar hy is net nie opgewasse vir Internationale spel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.