Quinny ook ’n krag in Engeland

Quinton de Kock. Foto: Randy Brooks/AFP.

Quinton de Kock se droomlopie is duidelik nog lank nie verby nie. Die 28-jarige Suid-Afrikaanse paaltjiewagter het gister 57 onoorwonne lopies van 32 aflewerings gemoker om toe te sien dat die Southern Brave vir die Welsh Fire met agt paaltjies in ’n Hundred-wedstryd geklop het.

De Kock se beurt het sewe grenshoue (waaronder twee sesse) ingesluit en hy tel onder die voorste lopiemakers in die reeks. In vyf beurte het hy reeds 180 lopies teen ’n gemiddeld van 60 aangeteken, terwyl hy sy lopies teen ’n treftempo van 176,47 slaan.

Die Hundred-reeks is ’n splinternuwe krieketinisiatief en spanne moet probeer om soveel moontlik lopies in 100 aflewerings te slaan. Dit sorg vir hope sesslaan-vermaak en as T20-krieket die krieketwêreld se kitskosrestaurant is, dan is die Hundred ongetwyfeld die sausage roll wat jy gou by die vulstasie gaan koop.

Met die T20-wêreldbeker om die draai, sal die Proteas swaar op De Kock steun. Hy slaan deesdae die een honderdtal na die ander (in witbal- én rooibalkrieket) sedert hy van sy kapteinskappligte onthef is.

Om dinge eenvoudig te stel: Wanneer De Kock lopies slaan, wen die Proteas wedstryde.

Imran Tahir het ook vroeër in die Hundred-reeks amok gemaak toe hy drie paaltjies op ’n ry vir die Birmingham Phoenix teen die einste Welsh Fire geneem het.

Die 42-jarige Tahir het met uiteindelike boulsyfers van 5/25 gespog en, omdat ’n Hundred-wedstryd statisties as ’n T20-kragmeting beskou word, is hy nou amptelik die oudste bouler om vyf paaltjies in dié formaat van die spel te neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.