Quinny se kolf flits steeds

Quinton de Kock in aksie vir die Lucknow Super Giants. Foto: Twitter.

Quinton de Kock se goeie spelpeil duur voort vir die Lucknow Super Giants in die Indiese Premierliga.

Die 29-jarige paaltjiewagter het tans die naasmeeste lopies in die spogtoernooi (188 lopies teen ’n gemiddeld van 37,60 en ’n treftempo van 132,39) en hy het reeds twee vyftigtalle in sy vyf wedstryde gemoker.

Dan is sy reaksies nog net so goed soos in sy muurbaldae en hy het een van Anrich Nortjé se blitsige vol aflewerings vir ’n ses geslaan.

Faf du Plessis vaar ook goed sedert hy die leierskapleisels van die Royal Challengers Bangalore (RCB)  oorgeneem het.

Die voormalige Protea-kaptein het 138 lopies in sy vier wedstryde vir sy nuwe span geslaan, terwyl hy ook vir RCB na drie oorwinnings gelei het.

“Faf is ’n bekwame toetskrieketkaptein en ons is opgewonde oor sy leierskaprol. Hy gaan hom uitstekend van sy taak kwyt,” het Indië se Virat Kohli vroeër gesê.

Dan het die 18-jarige Dewald Brevis sy buiging vir die Mumbai Indians gemaak.

Hy het 29 van 19 aflewerings teen die Kolkata Knight Riders geslaan, terwyl hy met sy eerste aflewering van die einste Kohli teen RCB ontslae geraak het.

Brevis, wyd en syd as “Baby AB” bekend, het sy stempel in die afgelope o.19-Wêreldbekertoernooi afgedruk waarin hy 506 lopies teen ’n gemiddeld van 84,33 geslaan het.

In vandag se IPL-aksie speel die Chennai Super Kings teen Du Plessis se RCB-span. Die aksie begin om 16:00.

  • Só vaar die Suid-Afrikaners in die toernooi:

Quinton de Kock: 188 lopies teen ’n gemiddeld van 37,60 en ’n hoogste telling van 80.

Faf du Plessis: 138 lopies teen ’n gemiddeld van 34,50 en ’n hoogste telling van 88.

Aiden Markram: 81 lopies teen ’n gemiddeld van 81,00 en ’n hoogste telling van 57*.

David Miller: 68 lopies teen ’n gemiddeld van 34 en ’n hoogste telling van 30.

Dewald Pretorius: Vier paaltjies teen ’n gemiddeld van 15,25 en ’n beste boulontleding van 2/30.

Dewald Brevis: 37 lopies teen ’n gemiddeld van 18,50 en ’n hoogste telling van 29; een paaltjie teen ’n gemiddeld van 8,00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Watsenaam ·

Sjoe, wat doen regstellende aksie net nie aan ons krieket nie, ne?

Hennie Biebouw ·

Dit bly skokkend hoe die BCCI gedomineerde IKR toelaat dat die IPL die toets krieket kalender negatief affekteer.

Ek peroonlik dink nie spelers wat IPL speel, mag verkiesbaar wees vir enige vorm van hul nasionale spanne nie.

Die IPL kalender moet ook aangepas word om buite IKR gesanksioneerde internasionale wedstryde en toernooie te val.

Jean ·

Ek persoonlik dink die kwotas wat nie hulle plek verdien nie mag nie in hulle nasionale spanne speel nie. Krieket is die mense se beroep, hulle moet kan kies waar hulle mag speel en in die SA span bly,

Jack Russ1 ·

IPL is nie krieket nie, dit is ‘n “sideshow” vir mense wat nie toets krieket kan waardeer nie

Louwrens ·

Onthou net dit is hul werk. Indien jou tuisland alles in hul vermoë doen om te keer dat jy daar mag werk en ‘n onderneming (IPL) jou miljoene aanbied vir 3 maande se “werk”, wat is jou keuse? Ek dink die minste wat enige SA speler verdien werk uit op meer as R1 miljoen per maand, maar dan moet hy aftree in sy laat dertigs. So daardie geld moet vir 40-50 jaar hou. So daar is geen manier wat ek SA span bo die IPL sal sal kies nie. Veral nie met die huidige bestuur van die SAKR nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.