Quinny terug op sy pos

Quinton de Kock. Foto: Hansie Linde.

“Sien julle in witbalkrieketreekse,” het Quinton de Kock in sy amptelike verklaring geskryf toe hy op 30 Desember 2021 sy toetskrieket-uittrede aangekondig het. Dit is ook presies waar hy Woensdag te sien sal wees.

Sedert sy aankondiging het die Proteas met Indië in ’n uitstekende toetsreeks afgereken, terwyl Kyle Verreynne heel goed agter die paaltjies in De Kock se afwesigheid vertoon het – die rooikop-paaltjiewagter het onder meer vyf kolwers in Indië se eerste beurt op Nuweland uitgevang.

Maar De Kock, wat onlangs pa geword het, is deel van die Suid-Afrikaners se planne vir die eendagreeks wat môre in die Paarl teen die Indiese besoekers begin.

En dit is in dié formaat van die spel waar die 29-jarige paaltjiewagter een van die gevaarlikste spelers ter wêreld is.

Sy eendagloopbaan het juis destyds met drie agtereenvolgende honderdtalle (135, 106 en 101) teen die einste Indiërs in 2013 vlamgevat.

Sedertdien het hy 5 355 lopies teen ’n gemiddeld van 45,38 en ’n treftempo van 95,47 in 124 eendagkrieketwedstryde geslaan.

Enige kolwer sal in sy noppies met dié loopbaansyfers wees, maar vir ’n paaltjiewagter wat die kolfwerk open, is dit verstommende leesstof en dit vergelyk goed met Adam Gilchrist se loopbaan.

Die Aussie – wat as die beste paaltjiewagter/kolwer nóg beskou is – het sy lopies teen ’n gemiddeld van 35,89 en ’n treftempo van 96,94 gemoker.

De Kock is ná Faf du Plessis se uittrede as die nuwe Protea-kaptein aangewys; ’n rol wat hy oënskynlik glad nie geniet het nie.

Hy is ná die Proteas se rampspoedige toer na Pakistan van sy pos onthef en hy het dit terstond met ’n spul lopies teen die Wes-Indiese Eilande in die Suid-Afrikaners se daaropvolgende toer gevier.

Hy het egter in Oktober 2021 weer eens die koerantopskrifte gehaal toe die hele kniebuig-fiasko die Suid-Afrikaanse krieketspan tydens die T20-Wêreldbeker in die Verenigde Arabiese Emirate getref het.

Sy laaste twee toetsbeurte was ook ’n flop en hy het glad nie gerus voor die paaltjies gelyk nie.

Maar wanneer Quinton de Kock die nodige vryheid gegun word om net krieket te speel, moet enige boulaanvaller versigtig wees.

Selfs al beskik jou aanvalsgroep oor name soos Jasprit Bumrah, Ravichandran Ashwin of Yuzvendra Chahal.

Protea-groep vir eendagwedstryde: Temba Bavuma (kaptein), Keshav Maharaj (onderkaptein), Quinton de Kock, Zubayr Hamza, Marco Jansen, Sisanda Magala, Janneman Malan, Aiden Markram, David Miller, Lungi Ngidi, Wayne Parnell, Andile Phehlukwayo, Dwaine Pretorius, Kagiso Rabada, Tabraiz Shamsi, Rassie van der Dussen en Kyle Verreynne.

Bepalings:

Eerste eendagwedstryd: 19 Januarie om 10:30 in die Paarl

Tweede eendagwedstryd: 21 Januarie om 10:30 in die Paarl

Derde eendagwedstryd: 23 Januarie om 10:30 in Kaapstad

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Frank

Al hoekom Verreyne goed agter die paaltjies VERTOON het, was agv sy spectacular duikslae om die bal te probeer keer/vang. Agv van sy gemiddelde mate van antisipasie wat hy besit.
Wanneer ‘n paaltjiewagter goeie antisipasie het, HOEF hy meestal nie so kwaai die veld vol te duik nie. Sien Boucher, De Kock, Ray Jennings ens ens