Quinton skitter, maar die toets en reeks nog nie beklink nie

Quinton de Kock – weer tot SA se redding. (Foto: AP Photo/Schalk van Zuydam)

Suid-Afrika het Sondag in die derde kriekettoets teen Nieu-Seeland in Hamilton hulself grootliks uit die moeilikheid gekolf, maar aan die einde van die tweede dag se spel was die toets en die reeks nog glad nie beklink nie.

Reën het Sondag, soos Saterdag op die eerste dag, weer heelwat spel verlore laat gaan en na die eerste twee dae is daar weens die reën en swak lig 65 boulbeurte daarmee heen.

♦  Sondag het Quinton de Kock, met ʼn beseerde vinger en al,  met ʼn uitstekende kolfvertoning die Proteas wat op 148/5 gewankel het, weer hoop gegee.

Danksy veral sy (soos altyd vinnige) 90 lopies het die Proteas 314 almal uit gehaal waarop Nieu-Seeland 67 sonder verlies aangeteken het op die twee dag wat deur reën en lig verkort is.

Saam met Faf du Plessis het De Kock die telling tot 190 gevoer toe Mitchell Santner Du Plessis  se paaltjie vir 53 lopies ingepalm het. Dit was ʼn groot slag vir die Proteas, want Du Plessis het met ʼn rustigheid en toewyding gekolf wat vir die Kiwi’s niks goeds voorspel het nie.

Dit was ʼn buitengewone vangskoot wat van Du Plessis ontslae geraak en Suid-Afrika op 190/6 skielik weer onder druk geplaas het.

Santner, stadiger as selfs die gewone draaibouler, het ʼn bal op die bypen geboul en Du Plessis het vorentoe gestrek, gereed om die bal met ʼn skephoutjie na skerpby te speel.

Op vlakby het Tim Latham met uitstekende voorgevoel letterlik uit sy blokke gespring om die bal te probeer afsny toe Du Plessis so vorentoe strek maar nog voordat hy kontak met die bal gemaak het. Die hou was egter in die lug (soos die bedoeling was op pad na die skerpbygrens) en Latham het in  sy beweging na regs die bal met die een hand net-net bygekom en vasgehou.

♦  De Kock het sy 90 lopies in 118 balle aangeteken voordat Neil Wagner hom beenvoor betrap het (295/9). De Kock se kolfbeurt het 11 viere en twee sesse ingesluit en dit was die tweede opeenvolgende keer dat hy in die negentigs uitgehaal is.

♦  Daar moet egter nie vergeet word van die baie waardevolle 29 wat Temba Bavuma aangeteken het nie. Dit mag in afsondering nie na ʼn groot telling lyk nie, maar hy het in sy meer as ʼn uur voor die penne 51 lopies saam met Du Plessis aangeteken en nooit in die moeilikheid gelyk voordat hy net ʼn rand van die kolf by ʼn haakhou gekry het nie. Die telling was toe 148/5 en De Kock het hom by Du Plessis kom voeg.

Na Du Plessis se vertrek op 190/6 het Vernon Philander gelyk of hy goed sal bydrae maar hy is op 11 gevang (219/7). Kashev Maharaj het nege lopies aangeteken en die Proteas se telling was op 249/8 aan die dun kant op ʼn kolfblad sonder veel streke met net die wolke wat effense swaai in die lug bewerkstellig het.

En toe kom die frustrasie vir die tuisspan. Kagiso Rabada het ʼn  waardevolle 34 lopies van 31 balle bygevoeg, en ondermeer saam met De Kock die telling van 249/8 na 295/9 geneem toe De Kock uit is.

Op 314 het Wagner ook Rabada se paaltjie gekry vir ʼn heel skaflike totaal.

♦ Die kolfsessies is Sondag verleng om die verlore tyd van die eerste dag in te haal toe daar 49 boulbeurte verlore gegaan het. Die spel is Sondag weer met ʼn reënbui en nat buiteveld onderbreek en swak lig het die spel met die Kiwi’s se telling op 67 sonder verlies ná 25.3 boulbeurte beëindig. Tim Latham (42) en Jeet Raval (25)  het halsstarrig hulle penne verdedig en die Proteas die vreugde van  ’n vroeë deurbraak  ontneem.

Klik op die skakel vir die volledige telkaart en statistiek van die toets: http://www.espncricinfo.com/new-zealand-v-south-africa-2016-17/engine/match/1020045.html

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.