Rabada en Maharaj vernietig Bangladesj

Nog een! Keshav Maharaj appelleer vir beenvoor, en die skeidsregter wys dit is uit. (Foto: Facebook CSA)

Reën en Morné Morkel se besering wat hom ses weke van die veld sal hou, kon Faf du Plessis en sy Proteas nie Maandag op die laaste dag van die eerste toets teen Bangladesj keer nie.

Bangledesj het net 41 lopies, 15 daarvan om die laaste paaltjie, aangeteken nadat hulle aan die begin van die dag nog 375 lopies benodig het om te wen.

Die Proteas het net 17 beurte en een bal en 84 minute benodig om die besoekers se laaste sewe paaltjies te neem, hulle vir net 90 uit te haal  en met ʼn allemintige 333 lopies te wen.

♦  Soos Morkel aan die begin van die besoekers se tweede kolfbeurt gedoen het, het Kagiso Rabada, sonder sy beseerde aanvangsmaat, vroeg toegeslaan. Hy het in sy eerste drie boulbeurte drie paaltjies laat kantel en 3/33 in sy tien beurte geneem.

Rabada was vurig en sy beheer uitstekend, en het gelyk of hy weer na aan sy heel beste is.

Aan die ander kant het Keshav Maharaj daarop geteer en die laaste drie paaltjies geneem. Hy het met ʼn ontleding van 4/25 in 10.4 beurte geëindig. Hy het Maandag sy 50ste paaltjie in sy 12de toets geneem – ‘n uitstekende prestasie.

Bangladesj se kolfwerk was futloos en sonder veggees. Hulle het oënskynlik besluit wen is nie ʼn moontlikheid nie en het mildelik self tot hulle skande op die laaste dag bygedra.

Boonop is een van hulle kolwers ook nog ná ʼn puik stukkie veldwerk van Rabada uitgehardloop.

♦  Dean Elgar is vir sy 199 goeie lopies in die eerste beurt as speler van die wedstryd aangewys.

♦  Morkel sal met ‘n ribbesering sowat ses weke buite aksie wees en behoort al heeltemal slaggereed te wees wanneer Indië einde Desember hier kom toer.  

Vir die volle telkaart en statistieke van die toets, klik op http://www.espncricinfo.com/series/10904/scorecard/1075502/South-Africa-vs-Bangladesh-1st-Test-bangladesh-in-south-africa-test-series

 

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dalene de Vente ·

Dagsê Andre
Dankie vir jou valkoog! Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.
Groetnis

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.