Rabada is terug – en Faf sal graag sy snelboulers wil loslaat

Faf du Plessis (Foto: AP Photo/Rick Rycroft)

Voordat die seile nie na Dinsdag en Woensdag se reën van die kolfblad afgehaal word nie is dit seker voortydig om te bespiegel, maar dit lyk tóg of Faf du Plessis, as hy die loot wen, eerste op die Oval in die derde kriekettoets teen Engeland sal boul.

Du Plessis meen die blad sal deur die vyf dae die vinniger manne begunstig. Met die Engelse top-orde wat in die tweede toets so kleigetrap het teen Vernon Philander-hulle, en nou boonop met die nuweling Tom Westley op nommer drie, sal Du Plessis dit wil uitbuit.

Rabada het boonop elk dag van die tweede toets, toe hy geskors was, gaan oefen en soveel beurte geboul was wat hy in die toets sou gedoen het. Hy kan nie wag om weer deel van die span te wees nie; en vir Engeland kan dit nie goeie nuus wees nie.

Reën word vir die eerste en vierde dag van die toets voorspel, maar daar is ook die moontlikheid dat die warm weer van die afgelope tyd genoeg aan die blad sou gedoen het dat draaiboulers dalk ook hulle slag sal kan wys.

Die kolfblad was Maandag aan die groenerige kant, maar dit is natuurlik nie die enigste aanduiding van beweging van die blad af nie – en kan boonop nog korter gesny word.

Dit is op die Oval dat Hashim Amla sy 311 in 2012 aangeteken het, wat die hoogste toetstelling deur ʼn Suid-Afrikaner is. Hy beskou dit daarbenewens in elk geval as een van sy gunstelingvelde.

Dalk, net dalk, kan dít die Engelse nog verder kos!

♦  Engeland het vir Toby Roland-Jones ingesluit in die plek van Mark Wood wat sy hakskeen in  die eerste toets beseer het en in elk geval nie oortuig het met sy 1/197 nie.

Dawid Malan sal eers Donderdag, nadat die kapteins na die blad gekyk het, hoor of hy sy toetsbuiging sal maak.

Die Proteas sal na alle waarskynlikheid net vir Rabada in Duanne Pretorius se plek terugbring in die enigste verandering aan die span.

Spel begin 12:00 (SA tyd).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.