Rabada lei Lions na T20-louere

Kagiso Rabada. Foto: Twitter.

Kagiso Rabada se skitterende 3/12 in die eindstryd van die plaaslike T20-reeks het gesorg dat die Lions die Dolphins met vier paaltjies geklop het.

Die snelbouler het vroeg van die gevaarlike David Miller (2) ontslae geraak en saam met Sisanda Magala (2/19) is die KwaZulu-Natallers tot 107/7 in hul toegelate 20 boulbeurte beperk.

Reeza Hendricks (39), Wiaan Mulder (24) en Temba Bavuma (22) het daarna gesorg dat die Johannesburgers die kragmeting met vier paaltjies staande gewen het.

Maar noudat alles verby is, was daar enige ander spelers wat hul hande vir die komende T20-wêreldbeker in Indië opgesteek het?

Die kollig was ongetwyfeld op Chris Morris.

George Linde. Foto: Rodger Bosch/AFP.

Dié veelsydige speler is onlangs vir meer as R32 miljoen deur die Rajasthan Royals in die Indiese Premierliga opgeraap, maar hy was lanklaas vir die Proteas in aksie.

In die plaaslike reeks het hy in die kleure van die Titans sy lopies teen ’n treftempo van 132,14 geslaan en met die bal het hy vyf paaltjies geneem.

Maar volgens Morris was hy laas in gesprek met Krieket Suid-Afrika toe Ottis Gibson (voormalige Protea-afrigter) hom voor die Wêreldbeker-kriekettoernooi in 2019 genader het.

Op die kolffront het niemand juis die wêreld aan die brand geslaan nie.

Reeza Hendricks, Temba Bavuma en Rassie van der Dussen is die drie voorste lopiemakers, maar almal se treftempo is laer as 130.

George Linde het egter sy goeie reputasie geen skade aangedoen nie.

Die draaier van die Cobras het 119 lopies teen ’n spogtreftempo van amper 170 gemoker, terwyl hy agt paaltjies geneem het. Kolwers kon egter slegs 6,95 lopies van sy boulbeurte aanteken.

Dan kan die keurders ook meer aandag aan Sisanda Magala skenk.

Die Lions-bouler het die meeste paaltjies (13) in die reeks geneem en hy spog onder meer met ’n boulontleding van 5/20 teen die Knights.

  • Meeste lopies:
  1. Reeza Hendricks (Lions) 275 lopies teen ’n gemiddeld van 36,71 en ’n treftempo van 118,43
  2. Temba Bavuma (Lions) 216 lopies teen ’n gemiddeld van 43,20 en ’n treftempo van 114,28
  3. Rassie van der Dussen (Lions) 167 lopies teen ’n gemiddeld van 41,75 en ’n treftempo van 121,89
  4. David Miller (Dolphins) 158 lopies teen ’n gemiddeld van 52,66 en ’n treftempo van 131,66
  5. Pite van Biljon (Knights) 154 lopies teen ’n gemiddeld van 38,50 en ’n treftempo van 117,50
  • Beste treftempo onder die kolwers (meer as 100 lopies):
  1. George Linde (Cobras) 167,60
  2. Heinrich Klaasen (Titans) 135,71
  3. Sarel Erwee (Dolphins) 133,33
  4. David Miller (Dolphins) 133,66
  5. Kyle Verreynne (Dolphins) 128,12
  • Meeste paaltjies:
  1. Sisanda Magala (Lions) 13 paaltjies teen ’n gemiddeld van 12,84
  2. Mthiwekhaya Nabe (Warriors) tien paaltjies teen ’n gemiddeld van 9,70
  3. Lungi Ngidi (Titans) tien paaltjies teen ’n gemiddeld van 9,80
  4. Kagiso Rabada (Lions) nege paaltjies teen ’n gemiddeld van 15,33
  5. Robbie Frylinck (Dolphins) nege paaltjies teen ’n gemiddeld van 16,00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.