Rabada mag speel; fokus moet op spel wees

Kagiso Rabada. Foto: AP Photo/Michael Sheehan

Die derde kriekettoets tussen Suid-Afrika en Australië begin Donderdag in Kaapstad. Ná die afgelope twee weke se warboel van gebeure van die veld af, het dit tyd geword dat die spelers hulle fokus terugkry op die spel self.

Alle oë en ore was op Kagiso Rabada, weliswaar nie op sy 11 paaltjies van die tweede toets nie, maar op sy verhoor oor sy appèl teen sy skorsing. Rabada se appèl teen sy skorsing was suksesvol en hy is beskikbaar vir die derde toets teen Australië.

Al het Suid-Afrika die afgelope jaar met beserings gesit aan hul topdrie kolwers en boulers is een ding vir seker, terugveg kan ons! Sake was beroerd ná die eerste toets teen die Aussies, maar AB en KG het die bordjies behoorlik verhang. Dit word deur baie mense gesien as dalk die ommekeer van die reeks in Suid-Afrika se guns.

Die Proteas moet nou saamstaan, vorentoe kyk en fokus terugplaas op die spel. Leer uit julle foute, maar kyk nou positief vorentoe.

Die Aussies het self ʼn probleempie of twee. Dink maar aan Mitchell Starc wat sukkel met ʼn kuitbesering. Die veelsydige Mitchell Marsh, wat ʼn liesbesering in die tweede toets opgedoen het, kon net teen halfpas in die nette voorberei.

Wat hou Nuweland se kolfblad vir die spanne in? Die wedstryd sal op dieselfde baanblad gespeel word as wat gebruik was vir die Nuwejaarstoets teen Indië. Dié toets was in bykans drie dae verby met 40 paaltjies (19 lopies per paaltjie) wat geval het terwyl net 760 lopies aangeteken is. Volgens die baanopsigter sal die baanblad dié keer nie so springlewendig wees nie en hy voorsien dat daar moontlik vyf dae spel kan wees.

Maak nie saak hoe jy na toetskrieket kyk nie, die loot is superbelangrik en swaai die uitslag met ʼn hele paar persentasiepunte in die guns van die wenners daarvan. Die ontleding van die blad en plaaslike kennis van die spelomstandighede sal sekerlik vir Faf du Plessis help om die regte besluit te neem indien hy die loot wen.

Die Aussies het die eerste toets gewen en die Proteas die tweede toets. Die reekstelling is nou een elk met die derde toets wat Donderdag in Kaapstad begin. Albei spanne het nagenoeg tien dae gerus en die spelers behoort vol energie te wees wanneer spel om 10:00 begin.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Herman Goosen ·

Die vieslike gedrag van hierdie man laat my in skaamte staan. Dankie tog ek ondersteun nie die land se nasionale spanne nie.
Viva Australie en Viva New Seeland!

SUG ·

Maar jy lees die nuus oor Rabada, Herman Goosen ? Ek ondersteun die SA Spanne en ek is gladnie skaam daaroor nie.

marius ·

Nou as jy so gewalg is hoekom trek jy nie,Suid Afrika se sportmanne trek altyd aan die kortste ent as dit by sulke beslissings kom.Dis oor mense soos julle dat ons as Afrikaners nie kan opstaan teen die oormag nie.

Anne-Marie ·

Herman…is dit nou oor Steve wat jy vir die Aussies skree? Hy het net soveel skuld daaraan gehad….die Aussies is nog altyd sissies, veral as hulle nie hulle sin kry nie

Callie van der Merwe ·

Dis jammer dat hy sy appel gewen het. Hy gedra hom swak en hy het nog steeds nie geleer nie. In die nuuskonferensie na die appel uitslag bly als n grap vir hom.

Nico ·

Hy is besig om die Malema van ons krieket te word. Nou gaan hy seker ‘n nog groter kop kry. Hy moet onthou Aussies gaan dit nie vir hom en sy arogandheid makliker maak nie. Ek is ook jammer hy het sy appel gewen.

Vonnie ·

Elkeen het seker die reg op sy mening maar ek weet werklik nie waarvan die ouens praat as hulle hom beskildig van arogansie en vieslike gedrag nie. Ek dink hy is n uitstekende sportman n man. Hou hom maar dop hy gaan nie net met die bal goed doen nie hy gaan nog een van die beste allrounders word. Baie bly hy kan speel.

Callie van der Merwe ·

Vonnie ek twyfel nie aan sy vermoens nie. Hy moet egter n voorbeeld stel vir die jong mense wat opkyk na hom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.