Rabada se 5 vir 13 skud die Aussies!

Lungi Ngidi (Foto Twitter @OfficialCSA)

Australië het die loot in Port Elizabeth gewen en besluit om eerste te kolf in die Tweede Toets teen Suid-Afrika. Ligte reën het die loot met tien minute vertraag, maar die wedstryd het om 10:00 begin. Die Aussies het ʼn onveranderde span in die veld gestoot terwyl die Proteas een verandering gemaak het. Lungi Ngidi is ingesluit in die plek van Morné Morkel.

Suid-Afrika spog met ʼn goeie rekord op St. George’s Park. Die Proteas het in die laaste tien jaar nog nie ʼn toets daar verloor nie. Die Suid-Afrikaanse boulers het Australië goed vasgepan met akkurate boulwerk. Die Aussies het hul eerste grenshou eers in die agste boulbeurt aangeteken en na tien boulbeurte was Australië op 13/0. Ná ʼn uur se spel was Australië op 23/0.

In die tweede uur het David Warner en Cameron Bancroft die krane behoorlik oopgedraai en die telling tot by 98 lopies geneem voordat Bancroft vir 38 lopies deur De Kock agter die paaltjies uitgevang is van die boulwerk van Vernon Philander. Teen middagete was die Aussies op 98/1.

Ná ete het Suid-Afrika toegeslaan en in die middagskof vyf paaltjies laat kantel. Khawaja (4),  Warner (63), Smith (25), S. Marsh (24) en M. March (4) het hul paaltjies verloor.

Teen teetyd het die Aussies gesteier op 170/6 in 53.5 boulbeurte. Die Proteas het die druk ná tee bly toepas en Kagiso Rabada het in ʼn merkwaardige skof 5  paaltjies vir 13 lopies laat kantel. Die laaste paaltjie-vennootskap was frustrerend vir die Proteas toe Paine en Hazlewood 31 aangeteken het en die Aussies se totaal geneem het tot by 243.

Met die bal het Kagiso Rabada gespog met 5/96 in 21 boulbeurte. Lungi Ngidi het 3 paaltjies  vir 51 geneem en Vernon Philander was baie ekonomies en hy het 2 vir 25 in 18 boulbeurte geneem.

Die Proteas se aanvangspaar (Markram en Elgar) het hul totaal geneem tot by 22 toe Makram been voor paaltjie betrap is. Elgar en die naguiltjie Rabada sal Saterdag voortkolf met die totaal op 39/1. Dit is nog 204 lopies kort van die eerste beurt-totaal van Australië.

In die geheel gesien het die dag aan Suid-Afrika se boulers behoort. Op dag twee moet die Proteas se kolwers poog om ʼn stewige voorsprong op die eerste beurt daar te stel.

Dag twee is geskeduleer om Saterdag om 10:00 op St. George’s Park in Port Elizabeth begin.

Klik hier vir meer inligting: http://www.espncricinfo.com/series/10908/game/1075983/south-africa-vs-australia-2nd-test-aus-tour-of-sa-2017-18/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nico ·

En soos dit hul gewoonte is skenk hulle weer ‘n klomp lopies aan hulle openent boulers. Hierdie keer ”net” sowat 50 maar wie weet wat vorentoe kan gebeur. Dit kan dalk soos 100 en meer voel.

Rupert Ashford ·

60 vir laaste twee paaltjies van Aus mag dalk die verskil wees. Starc sal die laaste 4 paaltjies vir minder as 40 laat val in SA se beurt. Sterkte blommetjies.

Robert ·

Rabada sal aan sy dissipline moet werk anders gaan hy maar min krieket speel. Hou op om arrogant te wees en speel die “game”.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.