Rabada se 50ste, Elgar se grootste

Dean Elgar se briljante onoorwonne 96 het die tweede toets vir die Proteas beklink. Volgens die hardebaard-kaptein sal die tuisspan nie nou hul voet van die versnelpedaal wil haal nie. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Die eerste aflewering van die derde en beslissende toets tussen Suid-Afrika en Indië word oor slegs ’n uur afgestuur.

Benewens die reekslouere wat op die spel is, speel Kagiso Rabada in sy 50ste toets vir die Proteas, terwyl Dean Elgar die komende Nuweland-stryd as een van die belangrikste wedstryde van die afgelope 15 jaar bestempel het.

Nadat die Proteas in hul veilige vesting op SuperSportpark met 113 lopies in die eerste toets gehensop het, het die tuisspan vir die besoekers (amper teen alle verwagting) in die tweede kragmeting op die Wanderers met sewe paaltjies ore aangesit.

Elgar en Rabada was twee van die Suid-Afrikaners se grootste uitblinkers.

Die snelbouler het weer met die vuur en aggressie van ouds geboul om met ’n wedstrydontleding van 7/114 te spog, terwyl Elgar sy eie Graeme Smith-oomblik gehad het om die Proteas in die vierde beurt na ’n spogoorwinning te lei.

“Ek dink hierdie toets tel onder die belangrikste wedstryde van die afgelope tien tot 15 jaar,” het Suid-Afrika se toetskrieketkaptein gesê.

Indien die Proteas vir Indië – die wêreld se voorste span wat onlangs met Australië en Engeland in hul agterplaas afgereken het – klop, sal dit ’n merkwaardige prestasie wees.

Veral wanneer ’n mens die administratiewe warboel, die transformasie-verhore en die uittrede van sleutelspelers in ag neem.

Kagiso Rabada speel in sy 50ste toets vir die Proteas. Foto: Prakash Singh/AFP.

As jy gedink het die Wanderers-sege was ’n tree in die regte rigting, sal ’n reeksoorwinning sommer ’n boksprong wees.

Volgens Elgar sal die Proteas probeer om hul voet op die versnelpedaal te hou.

“Ons het op die Wanderers gesien dat Indië nie baie daarvan hou wanneer hulle skielik onder druk kom nie. Dit sal dom wees as ons nie met selfs meer dringendheid probeer speel nie.”

Ja, die Suid-Afrikaners kan met reg trots wees op hul vertoning in die tweede toets, maar hulle kan nie bekostig om te lank in die truspieëltjie te kyk nie; ’n toets word in die hede gewen, en nie in die verlede nie.

“’n Reeksoorwinning sal vir ons ’n hengse prestasie wees. Om die wêreld se voorste krieketspan – selfs al is dit in ons agterplaas – te klop sal ongelooflik baie vir ons beteken. Indien alles volgens plan verloop, sal dit die grootste sege van my toetsloopbaan wees.”

Spel begin om 10:30 en die aksie sal regstreeks op SuperSport en op SABC3 uitgesaai word.

  • Rabada se loopbaan:

226 paaltjies teen ’n gemiddeld van 22,57 en ’n treftempo van 41,00 in 49 toetse. Hy het ook 718 lopies in dié wedstryde aangeteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Harley Davidson ·

Al wat ek gaan sê is afduimpie vir julle en ek hoop julle verloor weer soos altyd.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.