Rabada voel sleg oor paaltjie-tirade

Kagiso Rabada. (AP Photo/Michael Sheehan)

Suid-Afrika se vuurvreter-snelbouler, Kagiso Rabada, voel sleg oor sy paaltjie-tirade wat veroorsaak het dat hy die vierde en laaste toets teen Engeland op die Wanderers sal misloop.

Op ’n hondmak blad in Port Elizabeth het Rabada en kie gesukkel om die Engelse kolwers uit te knikker. Toe hy uiteindelik vir Joe Root met ’n kartets van 140 km/h skoongeboul het, kon hy nie sy emosies beteuel nie en hy het tot langs die Engeland-kaptein gehardloop en uit pure frustrasie kliphard geskree.

Hy is deur die wedstrydskeidsregters aangekla en vir een toetswedstryd deur die Internasionale Krieketraad geskors.

Sy skorsing was die kersie op ’n Protea-koek wat maar ’n wrang smaak in die mond gelaat het. Die Suid-Afrikaners het die derde toets met ’n beurt en 53 lopies verloor en hulle móét die Wanderers-kragmeting wen om ’n gelykopuitslag in die reeks af te dwing.

“Dit is iets wat ek glad nie verwag het nie; of dit nou reg of verkeerd was om my te skors, die werklikheid is dat ek die wedstryd sal misloop,” het Rabada gesê.

“Dit kan nie net die heeltyd gebeur nie. Ek laat myself en die span in die steek – dit maak seer.”

Hy was al vantevore in die sop oor sy paaltjieneem-feesvieringe – dink net aan Australië se vorige toer na Suid-Afrika, toe hy vir Steve Smith en David Warner ordentlik terug na die kleedkamers gestuur het.

Die Wes-Indiese snelboul-legende Michael Holding, sowel as Engeland se Kevin Pietersen, het Rabada se gedrag veroordeel, terwyl die voormalige Engelse kaptein, Michael Atherton, weer vir hom in die bres getree het.

Met die Proteas wat verspotmaklik gehênsop het in Port Elizabeth, is Temba Bavuma, Andile Phehlukwayo, Keegan Petersen en Beuran Hendricks weer vir die laaste toets nadergetrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Kiepie ·

Rabada moes hom seker ook eerder gevloek het soos Josh Buttler vir Philander dan is hy ook net oor die vingers getik en met 50% van sy wedstrydgeld beboet.

Ek. ·

Kiepie, Philander kan gelukkig wees met n paar vloekwoorde, eerder om ook n wedstryd nie te gespeel het nie. Sy swak maniere om n kolwer met die bal te gooi, is nie aanvaarbaar nie.

Kandas ·

@Kiepie, die verskil is Rabada is al meer as 3keer gewaarsku. As jy wil praat, praat van hoe ons toets span 2 ball tamperers in het, en CSA het niks gedoen om hulle te straf nie.

Karl ·

@Kiepie, soos Philander oor die vingers getik is toe hy met n stukkie yster met tandjies ball tampering toegepas het???

EK, ·

Moontlik ook n rassistiese aanmerking gemaak wat nou mooi toegesmeer word.

Kevin ·

@Ek soos CSA Philander en Faf se ball tampering toegesmeer het?

Johann ·

“Voel sleg”? My wêreld, waarom doen hy dit dan oor en oor! Hy verdien sy wedstrydskorsing. Ek hoop bestuur het met hom gepraat want hy het span in die steek gelaat met sy aksie.

CR ·

Die ou is nie net arrogant nie, maar aggressief ook. Dis twee baie swak karakter einenskappe vir n speller wat vir sy land op die hoogste vlak speel. En dit nogal in n gentlemans sport soos Krieket. Die ou is n uiters swak voorbeeld vir ons land se jeug. Gaan speel Rugby man. Daar kan jou teenstanders jou terug stamp en lekker hard tackle jou laffaard.

MH ·

In krieket, soos in alle fasette van die lewe gaan dit oor respek. In krieket is dit respek vir die spel krieket, jou spanmaats, die skeidsregters, die afrigters, die toeskouers en, ja, ook respek vir jou opponente.
Kan respek aangeleer word of is dit ‘n aangebore eienskap? Ek weet nie.

Nico ·

Rabada maak ‘n gewoonte daarvan om soos ‘n primetiewe oorlog kryger op te tree. Dit is goed dat hy geskors. Sedert hy met die selfde swak sportmanskap teen AUS weggekom het was dit ook due laaste reeks wat hy soos ‘n gevreesde bouler geboul het. Daarna kon hy nog niks uit rig nie. Dalk sal dit hom nou dwing om op sy boulwerk te konsentreer. Sp het ek ook ‘n broertjie dood aan enige sirkus streke na ‘n bouler ‘n paaltjie neem. Dit is soos om te dink jy is ‘n vliegtuig, skadu bokser, bel met jou skoen of om kulkunstenaar op veld te of enige iets anders. Jy het nooit sulke nar optrede by ons oud-oud spelers gesien nie.

Onaanvaarbare sportgees ·

As n afrigter aanvaar ek nie sulke gedrag, die goed gebeur al by oefening en dan by die klein kompetisies, maar mense sal enige iets aanvaar solank hul net kan wen. Ek hoop hy voel sleg genoeg om dit nooit weer te doen, dit is absolute swak gedrag en ek is trots op die krieketraad oor hul besluit. Indien die vroere afrigters en skeidsregters hom goed vasgevat het hierdie ding nie 3 x op internasionale vlak gebeur nie. Buig die boompie, al is hy jou favorite, maak hom iets wat almal wil he en nastrewe.

Anoniem ·

@MH, Respek is ‘n ingebore karaktereienskap. Behandel jy ander mense met die nodige respek sal hulle ook aan jou respek betoon.

JK ·

Die verskil is, Root gaan onthou word vir sy spel, Rababa nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.