Rasse-instituut kap Krieket SA

Ter illustrasie. (AP Photo/Mahesh Kumar A.)

Die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) het Woensdag in ʼn verklaring gesê hy gaan aan die Internasionale Krieketraad skryf sodat daar moontlik teen Krieket Suid-Afrika opgetree kan word.

Volgens die IRV het die beleërde nasionale krieketorganisasie in sy onlangse optrede versuim om die beginsels van die Internasionale Krieketraad (IKR) se grondwet te gehoorsaam.

Krieket Suid-Afrika (KSA) is deesdae gereeld in nuusblaaie se visier weens wanbestuur, die afdanking en bedanking van mense in bestuursposisies, asook transformasie.

Daarteenoor probeer die IKR waardes soos spanwerk, integriteit, aanspreeklikheid, regverdigheid en respek vir diversiteit bevorder.

Die IRV meen weens jare lange wanbestuur en regeringsinmenging moes hierdie waardes aan die agterspeen begin suig.

Meer onlangs het KSA aangekondig dat hy voortaan daartoe verbind sal wees om slegs swart konsultante aan te stel in ʼn poging om transformasie te versnel. Dit het daartoe gelei dat die burgerregteorganisasie AfriForum sy regspan opdrag gegee het om moontlike regstappe teen die organisasie te ondersoek.

“Regverdigheid moes noodgedwonge pad vir ideologiese agendas maak, terwyl integriteit vir politieke opportunisme en manipulasie opsy staan. Daarbenewens word uitnemendheid en sportprestasies ook minder belangrik as politieke besluitneming geag,” lui die instituut se verklaring.

Volgens die IRV se Hermann Pretorius het KSA voeling met die Suid-Afrikaanse publiek verloor.

“Navorsing toon verreweg die meeste Suid-Afrikaners, trouens meer as 80%, verlang dat sport eerder op meriete as op ras gegrond moet word. Die vernietigende herinstelling van die rassemaatstaf in Suid-Afrikaanse sport is ʼn gevaarlike terugwaartse stap en laat eerlike Suid-Afrikaners met geen ander keuse nie as om op drastiese optrede aan te dring,” het Pretorius gesê.

Pretorius meen oudpres. Nelson Mandela het die versoeningswaarde van sport begryp.

“Dit is ʼn skande dat Suid-Afrikaanse sport, 25 jaar nadat die verenigingspotensiaal van sport só kragtig op Ellispark uitgebeeld is, nou in 2020 kan terugkeer na ʼn beleid wat vanpas is vir  ʼn Verwoerdiaanse land.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Manie

Maak asb gou IRV, die Proteas durf nie weer speel alvorens die gemors met KSA en BLM nie uitgeklaar is nie. Indien hulle nooit weer speel nie, sal dit my ook nie ontstel nie.

Hendrik Marthinus

Al hierdie instansies kla te laat, Los die nuwe indiese CEO dame om darem ook n Paar miljoen te maak. Toe ons krieket leliewit was het ons gechoke, toe word ons krieket verteenwoordigend van ons rainbow nation en toe choke ons Steeds. So why we worry, SA krieket Sal altyd choke Wanner ons in wereldbeker wedstryde speel Sal ons nog vinniger choke Die helfte van die span buig al klaar die knie, Zimbabwe gaan ons met 10 paaltjies klop soos dit nou aangaan Enigste spellers wat nou smile na die berig van Swart konseltante is Menere Ngidi, Radaba, Smith, Bavuma,… Lees meer »

Vrijburger

Puik IRV, ek ondersteun hierdie besluit ten volle! Hang dit internasionaal aan die groot klok.

Niklaas

Gaap , en steeds voel ek vere vir KSA se lot. Maak gougou weer ‘n paar knielaksies met gebalde vuis vir ons.