Rassie laat waai in Pakistan

Rassie van der Dussen het 104 onoorwonne lopies in Pakistan geslaan. (Foto: X/Lahore Qalandars)

Rassie van der Dussen se eenmanvertoning met die wilgerlat kon nie verhoed dat die Lahore Qalandars met agt lopies teen Peshawar Zalmi in Pakistan se mik-en-moker-toernooi verloor nie.

Die Suid-Afrikaner het 104 onoorwonne lopies van slegs 52 aflewerings gemoker nadat hy op nommer drie vir die Qalandars gaan kolf het.

Dit is die eerste honderdtal van die 2024-weergawe van die Pakistan Superliga (PSL).

Van der Dussen het ses sesse in sy dinamietbeurt geslaan en hy het veral die boulwerk van Naveen-ul-Haq geniet.

Die Protea-kolwer het 36 lopies van die Afghanistan-bouler aangeteken en hy het veral die bykantgrens geteiken.

Van der Dussen (270 lopies teen ʼn gemiddeld van 90) is tans die voorste lopiemaker in die toernooi, gevolg deur Reeza Hendricks (246 lopies teen ʼn gemiddeld van 61,5).

Suid-Afrika speel oor ʼn paar maande in sy eerste T20-Wêreldbekerwedstryd teen Sri Lanka in New York en die spelers hoop dat sterk vertonings in plaaslike toernooie hul plek op die vliegtuig na die internasionale uitkloptoernooi sal bespreek.

  • Opsomming van die telkaart:

Peshawar Zalmi 211/4 in 20 boulbeurte: Saim Ayub 88, Babar Azam 48 en Shaheen Shah Afridi 3/33.

Lahore Qalandars 203/6 in 20 boulbeurte: Rassie van der Dussen 104*, Shai Hope 29 en Naveen-ul-Haq 2/50.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.