Rassie plaas Proteas op voorvoet

Rassie van der Dussen laat waai met nóg ’n veeghou. Foto: Rodger Bosch/AFP.

Gewoonlik begin Rassie van der Dussen sy kolfbeurt in eerste rat. Namate dinge vorder, verwissel hy dan geleidelik ratte om ’n vyfderat-aanval laat in die beurt van stapel te stuur.

Maar gister in die Paarl het die Protea-kolwer sommer vanuit die staanspoor in ’n hoë rat weggetrek toe hy 129 onoorwonne lopies vanaf slegs 96 aflewerings teen Indië gemoker het.

Van der Dussen het op ’n stadige kolfblad 13 grenshoue gemoker om toe te sien dat die Suid-Afrikaners die eerste eendagwedstryd met 31 lopies gewen het.

“Dit het soms gelyk asof Rassie op ’n ander kolfblad as die res van ons gespeel het,” het Temba Bavuma gesê.

Die Protea-kaptein het self ’n honderdtal aangeteken en sy spogvennootskap van 204 lopies om die vierde paaltjie saam met Van der Dussen het ’n deurslaggewende rol in die Proteas se oorwinning gespeel.

In 30 eendagwedstryde het Van der Dussen reeds 1 187 lopies teen ’n gemiddeld van 73,62 geslaan en hy het gister veral die Indiese draaiers onder hewige druk geplaas.

“Ek het geweet dat ek vroeg in die beurt met ’n teenaanval moes begin om hul boulers van stryk te bring,” het Van der Dussen gesê.

Sy veeghoue was ’n gevaarlike wapen en KL Rahul moes noodgedwonge na sy snelboulers draai om die situasie te probeer beredder.

“Voorheen het Suid-Afrikaners goed teen die vinniger boulers gekolf, maar ons het die afgelope ruk hard gewerk om ook doeltreffende krieket teen draaibalboulers te speel. Dan het die twee suksesvolle lopiejagtogte in die toetsreeks ons ook baie selfvertroue gegee.”

Die tweede eendagwedstryd begin môre om 10:30 weer in die Paarl.

  • Opsomming van telkaart:

Proteas 296/4 in 50 boulbeurte: Rassie van der Dussen 129*, Temba Bavuma 110 en Jasprit Bumrah 2/48.

Indië 265/8 in 50 boulbeurte: Shikhar Dawan 79, Virat Kohli 51 en Andile Phehlukwayo 2/26.

  • Die Agterblad-span het ook die Proteas se spogvertoning bespreek. Kyk hier na hul lekker debat!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frans ·

Puik beurte deur Rassie van der Dussen en Temba Bavuma het Protea boulers waarvan sommige oorgewig en onfiks gelyk het gered en ‘n telling daar gestel wat selfs swak boulwerk kon oorkom

Koen ·

Wonder waar is al die bitterbekke wat vir die all blacks, India en pommies skree?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.