‘Rassisme is heeltemal onaanvaarbaar,’ – Kohli

’n Polisieman staan wag tussen die skare. Foto: David Gray/AFP.

Jasprit Bumrah en Mohammad Siraj het tydens die eerste paar dae se spel van die derde toets teen Australië onder beweerde rassistiese kommentaar op die Sydney Cricket Ground (SCG) deurgeloop. Dit was veral toe die twee snelboulers op die grens veldwerk gedoen het waar die tuisskare hul ore glo laat tuit het.

Ajinkya Rahana, Indië se tydelike kaptein in Virat Kohli se afwesigheid, het saam met Siraj ʼn klag by die wedstrydbeamptes ingedien en ses toeskouers is ook daarna uit die stadion gesmyt.

Maar volgens Ravichandaran Ashwin is dit nie die eerste keer dat Indiese spelers onder die Aussie-toeskouers deurloop nie.

“Hierdie is my vierde toer na Australië en veral in Sydney het ons al vantevore iets soortgelyks ervaar,” het die draaibalbouler gesê.

Volgens Ashwin het van sy spanmaats in die verlede teruggekap  – veral Kohli tydens die toer van 2011/’12 – wanneer hulle deur die toeskouers getart word en is hulle op die vingers getik.

“Dit is pleinweg ’n reaksie op die manier waarop die skare gesels, veral wanneer ’n speler naby aan die grens diens doen.”

Die sterbouler het bygevoeg dat die besoekers gewoond is aan die aggressiewe Australiese toeskouers, maar dat die onlangse rassistiese kommentaar vir ’n wrang smaak in die mond sorg.

Mohammed Siraj (regs) praat met die skeidsregters. Foto: Saeed Khan/AFP.

“Dit is iets wat ongetwyfeld nie in vandag se tye aanvaarbaar is nie en die skuldiges moet gestraf word. Daar moet seker gemaak word dat so iets nie weer gebeur nie.”

Kohli, wat ná die eerste toets terug na Indië vir die geboorte van sy kind vertrek het, het ook sy misnoeë oor die voorvalle uitgespreek.

“Rassisme is heeltemal onaanvaarbaar,” het hy op Twitter geskryf.

“Daar was al baie onvanpaste dinge op die grens aan spelers gesê, maar hierdie is die toppunt van onaanvaarbare gedrag. Dit is hartseer dat so iets op ’n krieketveld moet gebeur.”

Volgens Kohli moet daar indringend ondersoek na die voorval ingestel word en daar moet streng teen die oortreders opgetree word.

Intussen het die Internasionale Krieketraad (IKR) ook die gebeure veroordeel en gesê dat hy alles in sy vermoë sal doen om Krieket Australië met sy ondersoek van hulp te wees.

  • Jofra Archer het tydens Engeland se toer na Nieu-Seeland in 2019 ook onder rassistiese kommentaar deurgeloop.

“Dit was nogal ʼn bietjie onstellend om vandag rassistiese beledigings te hoor terwyl ek gekolf het in ’n poging om die toets vir my span te red. Die toeskouers was die hele week ongelooflik, behalwe vir daardie één persoon,” het hy destyds op Twitter geskryf.

Hy het in ’n verdere inskrywing geskryf wat hom presies toegesnou is, maar dit is later uitgevee.

Archer is in Barbados gebore en het net voor die Wêreldbeker-kriekettoernooi gekwalifiseer om vir Engeland te speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

koos10 ·

Ek stem saam, maar met bewegins soos BLM en die knie en vuis op die veld, het die BLM volgelinge mos maar ras op die veld gebring?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.