Reeks om die As: Engelse gee boedel oor

Australië se Josh Hazlewood (links) en Engeland se Jos Buttler in Brisbane (11 Desember 2021) (Foto: Patrick Hamilton/AFP)

As daar een ding is wat enige krieketspan haat, is dit om in die vreemde Kersgeskenke aan sy aartsvyand uit te deel terwyl daar geen geskenke vir homself onder die Kersboom lê nie.

Dít was die lot van die Engelse toerspan toe Australië Saterdagoggend in Brisbane die eerste toets in die reeks om die As binne vier dae met nege paaltjies gewen het.

Al wat nou vir die Engelse voorbly, is om die kritiese ontleding in die media te probeer verwerk en deur oud- Engelse spelers geroskam te word.

Dit was die Engelse se eie skuld nadat hulle gisteroggend op 220/2 in hul tweede beurt kom voortkolf het met die kaptein, Joe Root en Dawid Malan wat stewig aan die agterstand van 278 lopies na die eerste kolfbeurte weggekalwe het.

Maar die Engelse het boedel oorgegee en hul laaste agt paaltjies vir net 74 lopies ingeboet.

Engeland is vir 297 lopies uitgehaal nadat hy slegs 147 lopies in sy eerste beurt aangeteken het.

Australië, wat 425 in sy eerste beurt aangeteken het, het net 20 lopies benodig om die voortou in die reeks te neem.

In Engeland se tweede beurt het net Root (89) en Malan (82) weerstand gebied voordat hulle Saterdag ook verkrummel het.

Root word beskou as die beste Engelse kolwer nog, maar hy kon in 110 toetse nog nie ʼn honderdtal teen Australië aangeteken nie. Kan hy dus beter beskou word as goue oues soos Denis Compton, Len Hutton en Ken Barrington, wat darem altyd veggees getoon het?

Dan het die Aussies se draaibouler Nathan Lyon (4/91) verby die kerf van 400 toetspaaltjies geskuif. Hy is nou die derde Aussie naas Shane Warne en Glenn McGrath wat hom by die 400-toetspaaltjieklub aangesluit het.

Maar Lyon moes 326 dae wag voordat die Engelse Saterdag hul paaltjies aan hom geskenk het.

Die Aussies se paaltjiewagter Alex Carey het met sy agt vangkanse in sy debuuttoets die rekord laat span van die meeste vangskote deur ʼn groentjie.

Carey het juis kans gekry omdat Tim Paine weens ʼn seksistiese teksskandaal nie gekies is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.