Reeksnederlaag staar Proteas in gesig

Temba Bavuma was frustreerd met sy span se boul- en veldwerk teen Ierland. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Vergeet maar van kolwe, balle en beenskutte; die Proteas sal vandag ook met ’n botteltjie Tipp-Ex in Ierland rondstap om te verhoed dat die tuisspan ’n inskrywing in die geskiedenisboeke maak.

Want as Ierland sou seëvier, sal hulle die reeks met 2–0 wen. Nie net ’n deurbraak en die eerste keer teen Suid-Afrika nie, maar ook ’n nuutjie teen spanne wat onder die topagt-krieketlande in witbalkrieket tel.

Die Protea-herlewing wat in die Wes-Indiese Eilande plaasgevind het, is bitter vinnig deur die Ierse veggees beëindig. Ja, T20-krieket is anders as eendagkrieket, maar ’n mens verwag darem dat die Suid-Afrikaners oor genoeg skietgoed beskik om Ierland te troef.

Temba Bavuma het ná Dinsdag se nederlaag met 43 lopies gesê dat sy span hand in eie boesem moet steek – veral wat hul poging in die veld betref. Maklike vangkanse is verbrou, terwyl die boulers 95 lopies in die laaste tien boulbeurte afgestaan het.

Charl Langeveldt, Suid-Afrika se boulafrigter, het begrip vir Bavuma se frustrasie.

“Ons het al in die Wes-Indiese Eilande oor dieselfde dinge gesels: Ons wedstrydplan loop skeef en dan probeer die ouens te veel dinge teen die einde van ’n kolfbeurt doen. Ons moet dit so gou moontlik probeer regstel,” het Langeveldt gesê.

Want as Kagiso Rabada en Anrich Nortjé nie op dreef is nie, kan Tabraiz Shamsi nie die hele span se boulwerklas op sy skouers dra nie.

Andile Phehlukwayo se naam lyk dalk goed op die spanlys, want sy veelsydigheid sorg vir meer balans, maar hy sukkel deesdae kwaai.

Hy is Dinsdag vir 26 lopies in sy laaste twee boulbeurte geslaan om met boulsyfers van 2/73 te eindig, terwyl hy ook net twee lopies aangeteken het.

Dalk draai die Protea-spanbestuur na hul beste speler, Quinton de Kock, om die kastaiings uit die vuur te kom krap.

Die 28-jarige paaltjiewagter het nog nie speelkans teen Ierland gekry nie, maar daar kan nie elke keer van hom verwag word om ’n wedstryd vir die Proteas te wen nie.

  • Die aksie begin om 11:45 en dit sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anton ·

Bavuma is frustreerd met die span….wonder hoe voel die span oor sy bydrae :-)

Andrew ·

De Kock gaan speel en hy gaan moontlik ook die verskil wees. Met hom agter die paaltjies gaan die boulers ook beter vertoon.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.