Reën kelder opwarmingstryd

Foto: Aamir Qureshi/AFP.

Reënweer het die Proteas se tweede Wêreldbeker-opwarmingswedstryd teen Bangladesj in Brisbane in die wiele gery sonder dat ʼn enkele aflewering afgestuur is.

Die Suid-Afrikaners het Nieu-Seeland Maandag in nog ʼn opwarmingstryd met nege paaltjies verrinneweer.

Temba Bavuma sou in alle waarskynlik vandag weer speelkans teen die Tiere gekry het nadat ʼn virus hom vir ʼn paar wedstryde langs die veld gehou het.

Daar heers deesdae baie vrae oor die Protea-kaptein se geskiktheid vir T20-krieket. Hy sukkel met sy spelpeil en nie een van die skatryk spanbase het in sy dienste tydens die SA20-spelerveiling belang gestel nie.

Tog geniet hy die ondersteuning van sy spanmaats en hy is self ook optimisties oor die Suid-Afrikaners se kanse in die komende internasionale skouspel.

“Ons was nie op ons beste in die reeks teen Indië nie, maar ons vertonings vroeër in die jaar gee vir ons die nodige selfvertroue,” het Bavuma gesê.

Volgens die Internasionale Krieketraad (IKR) se ranglys is die Proteas die vierde beste T20-span ter wêreld, terwyl Aiden Markram, Keshav Maharaj en Tabraiz Shamsi ook onder die individuele sterre tel.

Anders as in die verlede het die huidige Proteas nie supersterre soos AB de Villiers, Dale Steyn of Faf du Plessis in hul geledere nie en Bavuma meen dat sy span nie noodwendig op die gunstelingspanradar sal verskyn nie.

“Ons sien egter uit na die toernooi. Ons wil goed voorberei en na die beste van ons vermoë speel.”

Suid-Afrika speel Maandag in hul openingswedstryd van die mik-en-mokerskouspel teen ʼn kwalifiserende span in Hobart.

Bepalings:

24 Oktober teen kwalifiserende span in Hobart

27 Oktober teen Bangladesj in Sydney

30 Oktober teen Indië in Perth

3 November teen Pakistan in Sydney

6 November teen kwalifiserende span in Adelaide.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

As jy 9 loopies aanteken Temba dan is dit jou beste T20 telling van jaar!

Koos 100 ·

Met sy kommentaar moet ons seker maar aanvaar dat hulle weer gaan “choke”?

Manie ·

Die ckoke ketting hang maar deurentyd om die nek, hang net af van wanneer hy styfgetrek word.

Anel ·

Sy arme spanmaats moet hom ondersteun. Hulle het nie ‘n keuse nie, anders word hulle gepos. As hy iemand anders was,was hy lankal gepos. Hy hoort nie daar nie. Punt.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.